Nuus 08:00
BULLETIN 19 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile stel sy verskyning in die Raad van Provinsies uit
# Mac Maharaj sê Pravin Gordhan was bekommerd oor die staatskapers wat steeds in die ANC is
# En rugby: Die Springbok-vroue maak gereed vir die toets teen Spanje
# Adjunkpresident Paul Mashatile se beplande vraag-en-antwoordsessie vandag in die Nasionale Raad van Provinsies, is uitgestel. Dit volg nadat hy Saterdag tydens ‘n toespraak in Tzaneen, Limpopo, flou geword het. Sy kantoor sê hy is aangeraai om ʼn week lank nie amptelike pligte na te kom nie terwyl hy rus en herstel. Mashatile sou vrae beantwoord oor afpersing, diensleweringsprobleme, herstel of groei in die vervaardigingsektor en die sentralisering van staatsondernemings.
# Die anti-apartheid-aktivis en vriend, Mac Maharaj, sê wyle Pravin Gordhan was gefrustreerd oor die ANC se verdraagsaamheid teenoor baie staatskapingsfigure wat steeds leiersposisies in die party beklee. Die gewese minister van Openbare Ondernemings is Vrydag in die hospitaal dood en sy begrafnis is vandag. Maharaj het in KwaZulu-Natal by ʼn ANC-gedenkdiens vir die oudminister gesê Gordhan was ernstig oor die ANC se vernuwing:
# Die MK-party in die Wes-Kaap sê hy sal nóύ saamwerk met wetstoepassingsagentskappe om seker te maak Kaapstad se gewese burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Malusi Booi, word vervolg. Die gewese DA-raadslid en nege ander word beskuldig dat hulle onwettig tenders van 850-miljoen-rand toegeken het aan drie maatskappye wat aan die beweerde hoof van die 28’s-bende, Ralph Stanfield, en sy vrou behoort. Die party sê Booi se optrede het die provinsiale wetgewer se reputasie geskend en openbare vertroue in hul leiers ondermyn.
# Die Withuis sê Amerika was nie betrokke by die dodelike aanvalle in Libanon nie. Minstens 20 mense is dood en meer as 450 beseer nadat tweerigtingradio’s gister in Libanon ontplof het. Dit volg nadat ʼn vlaag roepradio-ontploffings minstens 12 mense se dood veroorsaak het terwyl byna drie-duisend beseer is. Die aanvalle was gemik op lede van die militante Hisbolla-groep. Die woordvoerder van Amerika se Nasionale Veiligheidsraad, John Kirby, sê hulle is diep bekommerd dat spanning in die streek kan toeneem:
# Rugby: Die Springbok-vrouespan kom vandag in ‘n deurslaggewende toetswedstryd teen Spanje in die DHL-stadion in Kaapstad te staan. Die span se kaptein, Nolusindiso Booi, sê hulle vorige oorwinning van 59-17 teen die Barbarians is goed vir hulle selfvertroue. Die hulpafrigter, Franzel September, beskou vandag se wedstryd as ‘n maatstaf, na hulle nederlaag van 13-15 in Valladolid vroeër vanjaar. Hy doen ook ‘n beroep op ondersteuning vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-69-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-563-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….