Nuus 18:00
BULLETIN 18 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Future Forex sê die versterking van die rand teen die Amerikaanse dollar bevoordeel verbruikers
# ‘n Parlementêre komitee vertrou die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal ten volle herstel
# En, tennis: Novak Djokovic kan dalk die ATP-eindstryd oorslaan
# Die uitvoerende hoof van Future Forex, Harry Scherzer, sê die versterking van die rand teen die Amerikaanse dollar sal Suid-Afrikaners steeds bevoordeel. Hy sê die feit dat die rand gister sy sterkste vlak in 14 maande teen die dollar bereik het, is ongetwyfeld goeie nuus vir swaarbelaste verbruikers en sakeondernemings. Scherzer sê met invoere wat goedkoper word danksy ‘n sterker rand sal almal bietjie minder platsak voel en ook by vulstasies:
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge is vol vertroue dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens ten volle kan herstel as sleutelaanbevelings geïmplementeer word. Die voorsitter van SKOOR, Songezo Zibi, het die behoefte aan sterker interne beheermaatreëls beklemtoon. Dit sluit in die vul van bestuursvakatures, die stabilisering van bestuursoorsig, die verbetering van finansiële toesig, die aanspreek van ouditbevindinge en doeltreffende bestuurstrukture:
# Die DA in Gauteng vra premier Panyaza Lesufi om die hoof van die Gesondheidsdepartement, Lesiba Arnold Malotana, te verwyder. Hy word deur die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek omdat hy na bewering omkoopgeld van agt-miljoen-rand met twee ander amptenare gedeel het. Die Staatsdienskommissie sê Malotana se aanstelling moet ondersoek word, en ook of hy die nodige graad vir die pos het. Jack Bloom van die DA sê ‘n ingrypende verandering in die departement se topbestuur is nodig om ongebreidelde korrupsie te stop:
# Tennis: Novak Djokovic het te kenne gegee hy gaan dalk nie aan die gesogte ATP-eindstryd in November deelneem nie, na hy reeds erken het hy het deelname-skedule ingekort. Die Serwiër het verlede jaar die titel in Turyn vir ‘n ongekende sewe keer ingepalm om sy grootste teenstander Roger Federer se ses keer te klop. Die 37-jarige is nou in Bulgarye waar hy die plaaslike held, Grigor Dimitrov, in ‘n vermaaklike vertoonwedstryd in Sofia aangevat het om fondse vir die Bulgaar se stigting in te samel. Dimitrov het met 6-4, 2-6, 10-5 geseëvier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-509-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-569-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Die prinses van Wallis het haar eerste vergadering gehou sedert sy onthul het haar chemoterapie-behandeling is voltooi. Die 42-jarige Katherine se eerste afspraak was ‘n vergadering by Windsor-kasteel. Kate het verlede week in ‘n diep persoonlike videoboodskap die jongste oor haar gesondheid met die publiek gedeel. Sy sê die afgelope nege maande was uitdagend, maar sy sien daarna uit om weer by die werk te wees. Kate het sedert Februarie chemoterapie ontvang vir ‘n onbekende vorm van kanker. Sy sal vir die res van die jaar ‘n ligte werksprogram volg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….