Goeie Nuus
BULLETIN 18 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Statistieke Suid-Afrika sê verbruikersprysinflasie het vir die derde agtereenvolgende maand gedaal tot 4,4-persent in Augustus van 4,6-persent in Julie. Dit is die laagste inflasiekoers sedert April 2021. Laer inflasie is ook in vervoer, behuising en restaurante aangemeld, terwyl die voedsel-, nie alkoholiese drankies, alkohol, en tabaksektore stygings aangemeld het. Ricardo Johnson van Statistieke SA sê voedselinflasie word gedryf deur hoër broodpryse, graankosse en suiwelprodukte:
# Die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van die Wes-Kaap en die provinsiale regering het die Sentrale Karoo InReach-projek van stapel gestuur. Hierdie week gaan hulle ‘n aansienlike agterstand in katarak-operasies en tandheelkundige prosedures in Beaufort-Wes aanspreek. Meer as 120 katarak-operasies en 300 tandheelkundige prosedures word beplan. Die bestuurder van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Florence de Vries, sê die projek sal waardevolle praktiese ervaring en professionele ontwikkeling vir studente verskaf:
# Die Grandads Army het meer as 350-duisend-rand ingesamel om die Eyabantwana For The Children Trust te ondersteun. Die trust wil operasies vir kinders van reg oor die Oos-Kaap ondersteun omdat baie oor groot afstande moet reis om toegang tot behandeling te kry. Bydraes sal tot voordeel wees van jong pasiënte by die Frere en Cecilia Makiwane Hospitale. Die tiende Grandads Army-gedenkrit vind volgende jaar in Maart plaas en die doel is om 500-duisend-rand in te samel.
# Die Stad Kaapstad se Film-kantoor nooi fliekvervaardigers om aansoek te doen vir ondersteuning vir hul produksies wat in die 2024/2025-boekjaar voltooi word. Die Film-ondersteuningsfonds wil steun in die vorm van munisipale dienste vir fliekprojekte aanbied wat in Kaapstad vervaardig word. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hulle sal produksies oorweeg wat die metro se ekonomiese ontwikkeling sal bevorder en werkgeleenthede kan skep deur die breër waardeketting van film- en mediaproduksie:
# ‘n Supermaan het die wêreld oornag verlig en saamgeval met ʼn skaars, gedeeltelike maansverduistering. Die skouspel in die hemelruim was sigbaar oor Europa en die grootste gedeelte van Asië, Afrika, Noord- en Suid-Amerika. ʼn Gedeeltelike maansverduistering vind plaas wanneer die aarde tussen die son en volmaan inbeweeg sonder dat die drie ʼn perfekte lyn vorm. NASA in Amerika sê die volgende gedeeltelike verduistering sal in Augustus 2026 plaasvind wanneer sowat 96-persent van die maan in die skadu sal wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….