Nuus 08:00
BULLETIN 18 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek BUSA om NGV-voorstelle te doen
# Afleggings by Seriti Resources kan meer as eenduisend-200 poste raak
# En rugby: Die Stormers trek 26 spelers saam teen die Pumas
# President Cyril Ramaphosa het Business Unity of South Africa gevra om spesifieke voorstelle in te dien oor die oorblywende probleem-kwessies met die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die president het gister met BUSA se leierskap vergader. Die organisasie sê die NGV is onbekostigbaar, onwerkbaar en ongrondwetlik. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering bly verbind om te goeder trou met alle rolspelers te beraadslaag om gesondheidsorg te hervorm.
# Steenkoolmyn, Seriti Resources het met ‘n afleggingsproses begin wat een-duisend-240 poste kan raak by sy bedrywighede by Middelburg Mine Services en Klipspruit in Mpumalanga. Seriti is een van Eskom se grootste verskaffers en onvolhoubare bedrywighede is die rede vir die stap. Uitvoerende hoof, Mike Teke, sê die maatskappy moet herstruktureer vir toekomstige volhoubaarheid. Die Nasionale Unie van Mynwerkers is ontstoke en beskuldig Seriti dat hy winste bo werkers stel.
# Die Wêreldbank het aanbeveel dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement nuwe, hoë teikens stel vir wiskunde en lees. Byna 62-persent van die provinsie se kinders in graad 4 was in 2021 funksioneel ongeletterd. Die Wêreldbank se Onderwyssektor-ontledingsverslag is op versoek van die provinsiale regering saamgestel. Volgens die verslag het die Wes-Kaap hoër leer-vlakke as enige ander provinsie. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die ontleding se doel is om kinders se leeruitkomste te verbeter:
# Die omstrede musiekmagnaat, Sean Diddy Combs, is aangekla van rampokkery, sekshandel en dat mense tussen state vervoer is vir prostitusie. Hy is Maandag in New York gearresteer, maande nadat federale owerhede klopjagte uitgevoer het op sy luukse wonings in Los Angeles en Miami. Combs is borgtog geweier nadat hy onskuldig gepleit het. Amerika se prokureur vir New York se Suidelike Distrik, Damian Williams, sê volgens die aanklag het Combs sy uitgebreide sakeryk gebruik om vroue te dreig, gewelddadig aan te rand en te dwing om sy seksuele begeertes te vervul:
# Rugby: ʼn Stormers-groep van 26 takel vandag by die Nelspruit-rugbyklub in Mbombela die Pumas in ʼn oefenwedstryd om hulle voorseisoen-voorbereiding af te sluit. Die span sluit in die nuweling, Dave Ewers, en slot JD Schickerling wat sy terugkeer maak. Die gewese Blitsbok-ster, Sako Makata, het van die Griekwas af by die groep aangesluit. Die Stormers skop hul Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog af met ʼn toer van drie weke na Europa waar hulle teen die Ospreys, Zebre Parma en Edinburgh sal uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-605-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-573-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….