Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig meer as een-duisend-100 werksgeleenthede is in gevaar tydens die steenkoolmyn Seriti Resources se voorgenome herstrukturering. Die myn sê hy is nie meer volhoubaar nie en die vakbonde sê die planne is ‘n oorlogsverklaring.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor ‘n boer van Rysmierbult naby Potchefstroom, Werner Victor wat in die plaaslike Mediclinic aansterk nadat hy tydens verwoestende veldbrande gered is. Die gebied is die naweek getref deur wydverspreide brande.
Dan skryf die koerant die Ahmed Kathrada-stigting sê die ANC kan nie die voormalige minister van Opebare Ondernemings, Pravin Gordhan eer terwyl daar nog staatskapers in die Parlement sit nie.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die veroordeelde kindermoordenaar, Lauren Dickason wat sê sy mis haar kinders elke dag.
# The Star & Pretoria News:
Skryf ondersoek gaan ingestel word na ‘n vermeende rasse-oorlog in Schoemansville, Hartbeespoortdam waar Afrikaanse inwoners na bewering nie swart ondernemings wil toelaat nie.
En tweedens word berig oor die uitdagings waaraan die regering van nasionale eenheid moet voldoen om suksesvol te wees.
# Sowetan:
Berig oor die ondersoek van sersant Anny Peter wat ‘n gesigbeskrywing gebruik het wat deur slagoffers gegee is om ‘n saak teen ‘n verkragter te ondersoek. Die koerant skryf die verdagte is nou tot 32 jaar gevangenisstraf gevonnis.
# En The Citizen:
Skryf nagenoeg 500-duisend leerders wat vanjaar skool toe is, gaan nie matriek skryf nie. Nagenoeg 39-persent van leerders haal nie graad 12 nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig vier kinders het in twee afsonderlike voorvalle in onderskeidelik Boegoeberg en Gariep verdrink. Die organisasie #HopeforSA staan die families by.
En tweedens skryf die koerant oor die algehele swak omstandighede in Vrystaatse hospitale. Die Ladybrand Provinsiale Hospitaal word nou stuk-stuk weggedra deur vandale en in Theunissen kry die hospitaal op dieselfde plek water waar varke drink.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig twee belangegroepe gaan hulself nou tot die Hooggeregshof wend om die raad van die Universiteit Stellenbosch se besluit om die Wilgenhof-koshuis te sluit uit te daag.
Dan skryf die koerant die Weermag gaan ‘n heining om die Kasteel in Kaapstad oprig om besetters weg te hou.
En laastens word berig rioolwerkers van die Stad Kaapstad is gered toe ‘n sloot in Gordonsbaai ingestort het.
# En Cape Times:
Skryf die sluiting van Wilgenhof is uit talle oorde verwelkom.
En berig die slagoffers van apartheidsmisdade het 53-miljoen-rand ontvang.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verkeerskameras kan dalk voor die somerseisoen weer in Nelson Mandelabaai in aksie wees.
En skryf ‘n 14-jarige Gqeberha-leerder is in ‘n beweerde padwoedevoorval deur ‘n motoris agternagesit, van sy fiets afgeklap en met ‘n vuurwapen aangehou.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n polisiebeampte wat nie aan diens was nie het sy meisie in ‘n restaurant in Berea doodgeskiet. ‘n Metropolisiebeampte wat tussenbeide wou tree is gewond en later in die hospitaal dood en nog twee mans is in die voorval gewond. Die verdagte is ook dood nadat hy verskeie kere geskiet is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig leerders sonder nasionale dokumente sal nie vanjaar die nasionale eindeksamen kan aflê nie.
En tweedens skryf die koerant Namibië se rol as uitvoerder en verskaffer van brandstof aan sy plattelandse bure in die Suider-Afrikaanse streek neem toe.