Nuus 06:00
BULLETIN 18 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA hou vandag ‘n Nasionale Dag van Aksie teen Eskom se tariefverhoging
# Die Ouditeur-generaal beklemtoon die Suid-Afrikaanse Lugdiens se geldelike probleme
# En rugby: Etzebeth sal Matfield se rekord Saterdag ewenaar
# Die DA hou vandag ‘n Nasionale Dag van Aksie in al nege provinsies om protes aan te teken teen Eskom se voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging van 36-persent. Dit volg na Eskom se aansoek om ʼn bykomende agt-miljard-rand in te haal met tariewe. DA-woordvoerder Kevin Mileham sê die verhogings is onbekostigbaar en benadeel Suid-Afrikaners. Hy beklemtoon die massa-optrede sal ʼn deurslaggewende parlementêre debat môre vooraf gaan:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het ‘n beroep gedoen vir ondersoeke na munisipaliteite wat daarvan beskuldig word dat hulle nie werknemers se pensioenfondsbydraes aan derdeparty-administrateurs oorbetaal nie. Dit sluit die Msunduzi en Mafube Plaaslike Munisipaliteite in. Dit volg ná klagtes nadat die tweepot-aftreestelsel in werking getree het. Hlabisa beplan om Cogta LUR’e te vra om ondersoek in te stel en het beklemtoon die versuim om pensioenbydraes te betaal, finansiële wanbestuur en ‘n misdaad is.
# Die Kantoor van die Ouditeur-generaal sê die Suid-Afrikaanse Lugdiens het die afgelope jare ernstige finansiële en bedryfsrampspoed ervaar. Ouditeur Thato Kunene het aan die Parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge gesê die regering het 38,1-miljard-rand in die lugdiens ingepomp waarvan 27,6-miljard-rand toegewys is aan die sakeredding. Hy het bygevoeg daar is tans geen lenings aan die redery toegewys nie:
# Minstens nege mense, insluitend ‘n kind, is dood en meer as tweeduisend beseer toe verskeie radio-ontvangtoestelle bekend as pagers oor Libanon ontplof het. Iran se ambassadeur in Libanon, Mojtaba Amani, was onder diegene wat in Beiroet beseer is. Die toestelle het behoort aan lede van die Iran-gesteunde Libanese gewapende groep Hisbolla. Die Libanese regering sê Israel is verantwoordelik. Hisbolla sê dit is die grootste sekerheidsbreuk in byna ‘n jaar van byna daaglikse oorgrenskonfrontasie met Israel.
# Rugby: Eben Etzebeth sal Victor Matfield se rekord van 127 toetse ewenaar indien hy Saterdag teen Argentinië op die veld draf. Hy begin op die bank met kaptein Salman Moerat en Ruan Nortjé die slotte in die beginspan. Springbok-afrigter Rassie Erasmus het tien veranderings aan sy opdrafspan gemaak. Ox Nché, Nortjé, Jasper Wiese, Handré Pollard en Jesse Kriel is die enigste spelers wat hulle plekke in die beginspan behou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-202-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-574-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-73-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die voorsitter van die ANC in Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die party het met die afsterwe van die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, ‘n vegter, strateeg en vreeslose kader verloor. Daar was gisteraand ’n gedenkdiens vir Gordhan in die Johannesburgse stadsaal. Hy is verlede Vrydag oorlede. Lesufi sê Gordhan het nooit sy rug op die ANC gedraai nie en tot die einde lojaal gebly:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….