Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Automobiel-Assosiasie verwag volgende maand ‘n aansienlike verlaging in die brandstofprys, gebaseer op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds. Petrol, diesel en lampolie sal daal met die prys van petrol wat met een-rand-26-sent per liter kan daal. Woordvoerder Eleanor Mavimbela skryf dit toe aan laer internasionale produkpryse en die sterk vertoning van die Rand teenoor die Amerikaanse Dollar:
# Die Universiteit van Pretoria en die Leeds-universiteit is op die kortlys vir vanjaar se Times-toekenning vir Hoër Onderwys vir Internasionale Samewerking. Die toekennings word algemeen bestempel as die Oscars van hoër onderwys. Die twee instellings het saamgewerk om aanvullende navorsingskundigheid te versterk met die fokus op voedselstelsels en volhoubare landboupraktyke. Die Universiteit van Pretoria sê die benoeming is grootliks te danke aan die beduidende bydraes van die Navorsingsnetwerk vir Voedselstelsels in Afrika, wat ‘n drywer is vir sekere inisiatiewe met groot trefkrag.
# Die aktivis-kunstenaar Natania Botha en die 20-jarige skepper Kevash Naidoo het die Sustainable Springbok Sculpture geskep ter viering van die Springbokke se verowering van die Vryheidsbeker vroeër die maand. Die mosaïekbeeld is uit ‘n herwinde mannekyn en materiaal geskep wat volhoubaar verkry is. Botha sê die beeld verteenwoordig die vermenging van kuns, sport en omgewingsverantwoordelikheid.
# Ses finaliste is vir die 2024-Bookerprys benoem en dit sluit vyf vroueskrywers in. Dis die meeste vroue op die kortlys in die prys se geskiedenis van 55 jaar. Die prys vereer die beste fiksie in Engels wat deur ʼn skrywer van enige land geskryf en in die Verenigde Koninkryk en Ierland uitgegee is. Yael van der Wouden is die eerste Nederlandse skrywer wat die kortlys haal. Ander skrywers op die lys is die Brit Samantha Harvey, die Amerikaners Percival Everett en Rachel Kushner, die Kanadees Anne Michaels, en Charlotte Wood van Australië.
# En ten slotte: Mia le Roux sal vir die eerste keer sedert sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is, die naweek haar tuisdorp, Oudtshoorn in die Wes-Kaap besoek. Die 28-jarige bemarkingsbestuurder, model en deeltydse B-Com-bemarkingstudent, het verlede maand geskiedenis gemaak deur die eerste dowe vrou te wees om die kompetisie te wen. Le Roux sal tydens haar besoek met onder meer ‘n straatparade en middagtee vereer word en sy sal verteenwoordigers van Oudtshoorn-skole ontmoet. Sy sal ook ‘n volstruisplaas besoek, en ‘n spesiale dinee by die wêreldbekende Kangogrotte bywoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….