Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê die president van ActionSA, Herman Mashaba het die metro se bestendigheid en die vordering wat gemaak is, verruil vir persoonlike politieke gewin.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor ActionSA se besluit om aan die Tshwane-koalisie te onttrek. Die koerant skryf Mashaba sê die party onttrek omdat hulle uitgevind het die DA wil in drie Gautengse metro’s met die ANC saamwerk.
Dan skryf die koerant oor die verwoestende veldbrande wat in Noordwes woed. Van Rustenburg tot in Magaliesburg.
En laastens is daar nuus oor die swartrenosterbulletjie wat by die Care for Wild Rhino Sanctuary in Mpumalanga gebore is.
#The Star & Pretoria News:
Skryf daar is ‘n sterk moontlikheid dat die Reserwebank rentekoerse sal verlaag.
En tweedens word berig oor die hoë voorkoms van MIV en Hepatitis C in Suid-Afrika.
# Sowetan:
Berig oor die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth se voorneme om die uitbuiting van werknemers by restaurante uit te roei. Dit volg nadat die departement op restaurante in Menlyn, Pretoria toegeslaan het.
# En The Citizen:
Skryf volgens kenners het die linkse faksie in die Suid-Afrikaanse politiek steun verloor en kiesers kyk liewer na die DA en IVP vir antwoorde.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die VF Plus sê die sowat 10-miljard-rand wat vyf Vrystaatse munisipaliteite aan die Vaal Sentrale Waterraad skuld, bedreig die voortbestaan van die instansie.
En tweedens skryf die koerant oor die jaarlikse Draadkar Grand Prix wat in Phillipstown plaasgevind het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die raad van Universiteit Stellenbosch het besluit om die Wilgenhof-koshuis vir ‘n jaar te sluit waartydens dit opgeknap sal word. Dit sal weer heropen as ‘n manskoshuis.
Tweedens skryf die koerant oor twee graad 12-leerders van die Paarl, Cheslin Davids en Julia-Ann Samaai wat dood is toe hulle deur ‘n bus getref is.
En laastens word berig die speurders wat die verdwyning van Joshlin Smith ondersoek, is deur die hof 35 dae toegestaan om hul ondersoek af te handel, anders kan die aanklagte teen die vier beskuldigdes teruggetrek word.
# En Cape Times:
Skryf afpersers teiken nou maatskaplike werkers
En berig Sadou het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube gekritiseer omdat sy nie die Bela-ondertekening bygewoon het nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig tydens ‘n klopjag op die St Albans-gevangenis is daar beslag gelê op televisiestelle, groot bedrae kontant, selfone en ander gesmokkelde goedere.
En tweedens skryf die koerant die onlangse ontdekking van hondsdolheid in die robbebevolking langs die Wes-Kaapse kus het die Bitou-munisipaliteit genoop om sy verordeninge te wysig en honde-eienaars te beveel om hul troeteldiere aan ‘n leiband te hou wanneer hulle langs die strand stap.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die installering van elektrisiteitsmeters by skole word allerweë verwelkom
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die vier moordernaars van ‘n bekende sakeman van Walvisbaai, Hans-Jorg Möller is agt jaar ná sy dood tot 36 jaar gevangenisstraf gevonnis.
En tweedens skryf die koerant die sogenaamde “mense se generaal”, Michael Amushelelo is op die kampus van die Universiteit van Namibië in hegtenis geneem vir kwaadwillige saakbeskadiging.