Nuus 06:00
BULLETIN 17 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube verdedig haar besluit om nie die BELA-ondertekening by te woon nie
# Oekraïne verwerp bewerings van bande met die beweerde Trump-sluipmoordenaar
# En Olimpiese Spele: Sebastian Coe en Kirsty Coventry is onder die kandidate vir IOK-president
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy het geen departementele aktiwiteite geboikot nie, sy het bloot besluit om nie verlede Vrydag die ondertekeningseremonie van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette by te woon nie. Sommige onderwysvakbonde het die minister gekritiseer omdat sy dit nie bygewoon het nie en sê sy moet in diens van almal wees en nie net ‘n spesifieke groep nie. Gwarube sê die Parlement moet toegelaat word om die grondwetlike foute in die wet reg te stel:
Die DA het intussen ‘n beroep gedoen vir dringende optrede om die onderwysbefondsingskrisis, wat duisende onderwysposte landwyd bedreig, aan te spreek. Die party verwelkom Gwarube se plan om met die Nasionale Tesourie en provinsiale leiers te vergader om die ernstige begrotingsbesnoeiings te versag. Die DA-lid, Delmaine Christians, ondersteun Gwarube se planne om onderwysers, leerders en die gehalte van onderwys, veral in skole met gebrekkige hulpbronne, te midde van hierdie finansiële krisis te beskerm:
# Die Ministerie van Indiensneming en Arbeid sê Babel Restaurant en Ocean Basket, in Menlyn, Pretoria, skuld meer as 1,3-miljoen-rand in agterstallige lone aan hul werknemers. Die onthulling volg nadat ‘n gesamentlike inspeksie Sondag uitgevoer is, wat oortredings van die Wet op die Nasionale Minimum Loon aan die lig gebring het. Werkers word so min as 150-rand per skof betaal terwyl sommige slegs fooitjies en kommissie ontvang. Die ministerie se woordvoerder, Thobeka Magcai, veroordeel die uitbuiting van werkers:
# Twee eenhede in Oekraïne, die Internasionale Legioen vir die Verdediging van Oekraïne en die Azov-brigade, het bewerings ontken dat Donald Trump se vermeende sluipmoordenaar een van hulle lede is. Die 58-jarige Ryan Wesley Routh, is Sondag in hegtenis geneem terwyl hy op die vlug geslaan het van ‘n baan in Florida waar die Republikeinse presidentskandidaat gholf gespeel het. Hy het glo vegters probeer werf vir Oekraïne. Agente van die Geheimediens het op Routh losgebrand voor hulle hom aangekeer het omdat hy na bewering die voormalige president geteiken het.
# Olimpiese Spele: Die hoof van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, is die bekendste onder die sewe kandidate wat hulle kandidaatskap aangekondig het om die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, op te volg. Coe kom te staan teen ernstige aanspraakmakers, onder wie Kirsty Coventry van Zimbabwe, wat die eerste vrou en Afrikaan wil word om die IOK te lei, en die fietsrybaas David Lappartient. Daar is ook twee kandidate uit Asië – nog ‘n vasteland wat nog nooit ‘n IOK-president opgelewer het nie. Die verkiesing word in Maart volgende jaar op ‘n sitting van die IOK in Athene gehou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-265-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-583-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Die Presidensie het aangekondig die voormalige minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan sal vereer word met ‘n spesiale amptelike begrafnis kategorie twee. Die diens sal Donderdagoggend om tien-uur begin in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konvensiesentrum in Durban, KwaZulu-Natal. Die plegtigheid sal formele elemente bevat wat behartig word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gevolg deur ‘n privaat verassing. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die Gordhan-familie het donasies aan liefdadighede of die Ahmed Kathrada-stigting gevra in plaas van blomme.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….