Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Twee Suid-Afrikaanse wildbewaarders, Petronel Nieuwoudt en Kerri Wolter, is benoem vir die 2025 Indianapolis-prys. Die toekenning word dikwels beskryf as die Nobelprys vir dierebewaring en gee erkenning aan hierdie bewaarders wêreldwyd se inspirerende werk en prestasies. Vier-en-veertig leiers in dierebewaring is benoem. Nieuwoudt is die stigter en uitvoerende hoof van Care for Wild Rhino Sanctuary, terwyl Wolter die stigter en bestuurder van VulPro is.
# Gauteng se departement van Gesondheid sê hy het van April tot Augustus gratis gehoortoestelle aan skole uitgereik om leerhindernisse vir leerders uit die weg te ruim. Dit vorm deel van die Geïntegreerde Skoolgesondheidsprogram. Die woordvoerder van die departement, Khutso Rabothata, sê van die meer as 33-duisend graad-een-leerders en nagenoeg 36-duisend graad-agt-leerders wat siftingstoetse ondergaan het, is 875 met gehoorprobleme gediagnoseer:
# Die Soweto-teater vereer dié week wyle Simphiwe ‘Mandoza’ Tshabalala met ‘n musikale huldeblyk, Nkalakatha: Road to 25 Years. Dit vier sy nalatenskap en die 25ste herdenking van sy treffer Nkalakatha, wat beskou word as Suid-Afrika se nie-amptelike volkslied. Die uitvoerende hoof van die Mandoza-stigting, Mpho Tshabalala het aan Newzroom Afrika gesê die produksie sal in vier provinsies aangebied word:
# Die LUR vir Kultuur, Sport en Ontspanning in Mpumalanga Leah Mabuza het aangekondig die wêreldberoemde Ndebele-kunstenaar Esther Mahlangu se ontwerpe sal die pilare van drie nuwe biblioteke in Nkangala, Gert Sibande en Ehlanzeni versier. Die inisiatief vereer Mahlangu se werk en moedig gemeenskappe aan om kuns te ontgin. Die aankondiging is gedoen tydens die oorhandiging van ‘n kuns-ateljee aan Mahlangu by haar huis in Kwa-Ndebele, wat kulturele bewaring en kuns-nalatenskap bevorder.
# En, die samurai-reeks, Shogun, wat in Japan afspeel en The Bear was die groot wenners by die 76ste Emmy-toekennings in Los Angeles. The Bear het vyf toekennings gebuit, insluitend dié van Jeremy Allen White as Beste Akteur in ‘n Komediereeks. Shogun spog met vier toekennings en is die eerste reeks wat nie in Engels is nie, wat as Beste Drama aangewys word. Hy ontvang ook toekennings vir hoofakteur, -aktrise en regisseur. Netflix se Baby Reindeer het ook vier toekennings ontvang wat dié vir beste beperkte of antologiereeks insluit. The Daily Show is aangewys as beste geselsprogramreeks.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….