Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 September 2024:
# Business Day:
Berig navorsing deur die aktivistegroep Publish What You Pay dui daarop dat indien Suid-Afrika die oorgang na skoon energietegnologie kan maak, mineraal-uitvoere die moontlikheid het om dié bedryf oor die volgende vier jaar ‘n hupstoot van 195-miljard-rand te gee.
GAUTENG:
# Beeld:
Se hele voorblad bestaan uit die syfer 50 wat met ‘n montage van voorblaaie oor die afgelope halfeeu saamgestel is. Die koerant vier vandag sy 50ste verjaarsdag.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Bela-wet is uit baie oorde verwelkom ten spyte van die kritiek daarteen.
En tweedens word berig verbruikers kan uitsien na groot dalings in brandstofpryse in Oktober.
# Sowetan:
Berig die burgemeesterskomiteelid vir finansies in die Emfuleni-munisipaliteit het erken die munisipaliteit is in die moeilikheid. Die raad wend hom nou na die Hooggeregshof om te probeer om toegang te verkry tot die bankrekeninge waarop beslag gelê is.
# En The Citizen:
Berig ekonome verwag die Reserwebank gaan Donderdag die repokoers verlaag, wat Suid-Afrikaners ‘n bietjie finansiële verligting sal bied.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die 64-jarige Mari Marais van Bloemfontein se toestand is kritiek nadat sy op ‘n ongelukstoneel waarin haar man en kleinseun betrokke was teen ‘n wal afgeval het.
En tweedens skryf die koerant die sewejarige Lesedi Phepeng en Rethabile Motloung wat in ‘n yskas versmoor het, is saam begrawe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube gaan met die Tesourie vergader in ‘n poging om die onderwysposte in die Wes-Kaap te red.
Dan skryf die koerant die Wilgenhof-alumnivereniging het ‘n beroep op die raad van Universiteit Stellenbosch gedoen om die studente se belange te oorweeg as hulle vanaand oor die koshuis se voortbestaan besluit.
En laastens is daar nuus oor Brittanje wat advertensies vir gemorskos gedeeltelik verbied om vetsug teen te werk.
# En Cape Times:
Skryf die kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds, Tebogo Maruping is geskors weens sy betrokkenheid by ‘n transaksie van vyf-miljard-rand met Thuja Holdings.
En tweedens berig die koerant ook oor die verwagte brandstofprysdaling.
OOS-KAAP:
#The Herald in Gqeberha:
Berig ’n kleuter van die Vastrap- informele nedersetting, Mattao Ferreira is die jongste slagoffer van onwettige elektrisiteitsverbindings in Nelson Mandelabaai.
En tweedens skryf die koerant die waarnemende president van die OP Rugbyunie, George Malgas sê hy is nie van plan om die pos te ontruim nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die minister van Samewerkende Regering en Tradisonele Sake, Velenkosini Hlabisa het in die Parlement gesê hy gaan teen wanbetalers optree.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die toelaag vir die vervoer van brandstof na afgeleë nedersettings in Namibië, is in Julie met 15-persent verhoog.
En tweedens skryf die koerant die Universiteit van Namibië is van vooroordeel beskuldig nadat hy politieke aktiwiteite op sy kampusse verbied het, maar die Swapo-jeugliga toegelaat het om ’n reeks vergaderings op sy hoofkampus te hou.