Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel die implementering van die omstrede dele van die BELA met drie maande uit
# Die EFF beweer Pravin Gordhan het aanspreeklikheid ontduik en ‘n nalatenskap van misdaad agtergelaat
# En, tennis: Grigor Dimitrov vervang Rafael Nadal in Span Europa vir die Laver-beker
# President Cyril Ramaphosa het die implementering van omstrede artikels van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, Bela, met drie maande uitgestel. Hierdie artikels gee provinsiale departemente die mag om taal- en toelatingsbeleide vir skole te bepaal. Hy sê die uitstel sal die partye van die regering van nasionale eenheid tyd gee om oor hierdie kwessies te beraadslaag en voorstelle te maak oor hoe om die verskillende sienings te akkommodeer. Indien die partye nie kan ooreenkom nie, sal hulle voortgaan met die implementering van hierdie dele van die Wetsontwerp.
# Die EFF het geen hartseer uitgespreek oor die dood van die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan nie, en het sy nalatenskap gekritiseer as een van vernietiging en verraad. Die party gee Gordhan die skuld vir die ineenstorting van staatsondernemings tydens sy ampstermyn, insluitend Eskom, Transnet, Denel en die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Die EFF-lid Leigh-Ann Mathys beweer die voormalige minister se optrede het bygedra tot wydverspreide werkloosheid en lyding, en beskuldig hom van korrupsie en arrogansie:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling wil gevolg-bestuur instel vir amptenare van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid. Die amptenare word betrek by die wesenlike onreëlmatighede wat deur die Ouditeur-generaal geïdentifiseer is, insluitend die 316-miljoen-rand, wat Sassa in 2012 aan Cash Paymaster betaal het. Die voorsitter van die komitee Bridget Masango, sê die Gautengse Hooggeregshof het beslis dat CPS nie kwalifiseer om geld te ontvang nie en moet Sassa terugbetaal:
# Die bemanning van ‘n oorlogskip van die Britse Koninklike Vloot het afgekom op kokaïen ter waarde van 3,7-miljard-rand toe hulle ‘n sogenaamde dwelmduikboot in die Karibiese See onderskep het. Die vloot was besig met patrollies saam die Amerikaanse Kuswag en ‘n maritieme vliegtuig. Die klein duikboot is aangetref 350 kilometer van die kus van die Dominikaanse Republiek met twee-duisend-kilogram kokaïen aan boord, en twee mense is in hegtenis geneem. Sky News berig dwelmsmokkelaars gebruik die dwelmduikbote wat laag in die water hang om opsporing te ontduik, terwyl party selfs ten volle onder water kan vaar.
# Tennis: Grigor Dimitrov van Bulgarye is genooi om deel van die Europese span by die Laver-beker in Berlyn te wees om Rafael Nadal te vervang. Die 38-jarige Spanjaard het hom aan die kompetisie onttrek en sê hy glo ander spelers kan die Europese span help om te seëvier. Dimitrov, ook alombekend as “Baby Fed” vir sy speelstyl wat herinner aan Roger Federer, bring ‘n magdom ervaring na die span wat reeds spog met sterre soos Carlos Alcaraz en Daniil Medvedev.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-124-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-568-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….