Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Morné van den Berg is opgeroep as ‘n beseringsvervanging vir Grant Williams vir die Springbokke se voorlaaste Rugby Kampioenskapswedstryd volgende Saterdag teen Argentinië in Santiago. Williams, wat verlede naweek op skrumskakel vir die Bokke opgedraf het teen die All Blacks in Kaapstad, is uit die toergroep gelaat weens ‘n stamp teen die arm. Van den Berg het in Bloemfontein sy debuut teen Portugal gemaak en sy eerste buiging in die groen en goud was verlede maand teen Australië in Perth.
Die Haaie pak intussen die Bulle Saterdag in die halfeindstryd om die Curriebeker op Loftus met vier Springbokke. André Esterhuizen en Francois Venter is die senters, Jordan Hendrikse begin op heelagter en Phepsi Buthelezi is agsteman. ‘n Voormalige Suid-Afrika A-speler, Lionel Cronjé, is op die bank. Afrigter John Plumtree het ses veranderings en een rotasieverandering aangebring aan die groep wat die Bulle in die laaste groepwedstryd verlede week in Durban verslaan het. Kaptein Vincent Tshituka verwag ʼn taai stryd en sê hulle is meer gemotiveerd omdat hulle nie die gunstelinge is nie.
# Vervolgens, tennis: Grigor Dimitrov van Bulgarye is genooi om deel van die Europese span by die Laver-beker in Berlyn te wees om Rafael Nadal te vervang. Die 38-jarige Spanjaard het hom aan die kompetisie onttrek en sê hy glo ander spelers kan die Europese span help om te seëvier. Dimitrov, ook alombekend as “Baby Fed” vir sy speelstyl wat herinner aan Roger Federer, bring ‘n magdom ervaring na die span wat reeds spog met sterre soos Carlos Alcaraz en Daniil Medvedev.
# Ons maak ‘n draai by motorsport: Lando Norris van McLaren sê hy wil probeer in die F1-wêreldtitel op meriete te verower. Sy spanhoof, Andrea Stella, het voor die naweek se Grand Prix in Azerbadjan onthul hulle gaan Norris ‘n prioriteit maak. Die Britse renjaer is 62 punte agter Max Verstappen van Red Bull in die bestuurderskampioenskap. Norris sê McLaren se besluit om hom eerste in die titelwedren te plaas beteken nie sy spanmaat Oscar Piastri gaan wedrenoorwinnings opgee nie:
# En, ons sluit af met sokker: Die Engelse Premierliga se verhoor van Manchester City se 115 aanklagte begin Maandag. City, wat die Premierliga vir ‘n rekordgetal van vier agtereenvolgende seisoene gewen het, word aangekla van die verbreking van finansiële billikheidsreëls oor ‘n tydperk van nege jaar wat in 2009 begin het en tot 2018 geduur het. City ontken die aanklagtes. Indien die heersende kampioene skuldig bevind word, kan van hulle punte afgetrek word wat beteken hulle kan gerelegeer word, of selfs uit die Premierliga geskop word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….