Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beskryf Pravin Gordhan as ‘n baken van die stryd teen korrupsie
# Die minister van Basiese Onderwys gaan nie die ondertekening van Bela-wetgewing bywoon nie
# En, rugby: Vier Bokke begin vir die Haaie in die Curriebeker-halfeind teen Bulle
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige kabinetsminister en oudstryder, Pravin Gordhan, was ‘n baken in die land se stryd teen korrupsie. Die 75-jarige Gordhan, wat beskou is as die frontlinie van weerstand teen die voormalige president Jacob Zuma en die Gupta-geleide projek van staatskaping, is vanoggend in die hospitaal oorlede. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die land is dankbaar vir Gordhan se lewe van opoffering en diens:
Defend our Democracy sê ondertussen Gordhan was ‘n uitstekende rewolusionêre leier en ‘n vooraanstaande intellektueel in die Suid-Afrikaanse vryheidstryd. Rekgotsofetse Chikane van Defend our Democacy sê Gordhan was ‘n pilaar van inspirasie vir die burgerlike beweging teen korrupsie en staatskaping:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sy het president Cyril Ramaphosa ingelig dat sy nie die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette gaan bywoon nie. Die president sal vandag die wetsontwerp by die Uniegebou onderteken. Gwarube sê sy bly gekant teen die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm en het Ramaphosa versoek om dit na die Parlement terug te verwys vir heroorweging. Sy sê besware teen die wetsontwerp moet oorweeg word om te verseker dat dit reggestel word om uitgerekte en duur regstappe te vermy.
Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die provinsiale regering sal ook nie vandag die ondertekening bywoon nie. Hy sê kommer bestaan oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp. Maynier sê hulle het steeds voorbehoude oor die bepalings van die Bela-wet oor skooltoelating en taalbeleid:
# Rugby: Die Haaie pak die Bulle Saterdag in die halfeindstryd om die Curriebeker op Loftus met vier Springbokke. André Esterhuizen en Francois Venter is die senters, Jordan Hendrikse begin op heelagter en Phepsi Buthelezi is agsteman. ‘n Voormalige Suid-Afrika A-speler, Lionel Cronjé, is op die bank. Afrigter John Plumtree het ses veranderings en een rotasieverandering aangebring aan die groep wat die Bulle in die laaste groepwedstryd verlede week in Durban verslaan het. Kaptein Vincent Tshituka verwag ʼn taai stryd en sê hulle is meer gemotiveerd omdat hulle nie die gunstelinge is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-43-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-569-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….