Nuus 09:00
BULLETIN 13 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika het ‘n uitstaande leier in Gordhan verloor
# Die MK-party sê die Bela-wetsontwerp is ‘n stap in die rigting van inklusiewe en gehalte-onderwys
# En Trump sê hy gaan nie nog ‘n presidensiële debat teen Harris voer nie
# President Cyril Ramaphosa het sy innige meegevoel uitgespreek met die afsterwe van die lewenslange aktivis en voormalige minister van Staatsondernemings Pravin Gordhan. Hy is in die ouderdom van 75 in die hospitaal oorlede. Gordhan het ook gedien as minister van Finansies, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake en as Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Ramaphosa sê die land het ‘n uitstaande leier verloor met ‘n beskeie persoonlikheid, diepte van intellek, integriteit en energie waarmee hy sy aktivisme en sy pligte in die regering onderneem het.
Gordhan word oorleef deur sy vrou Vanitha en dogters Anisha en Priyesha. Neeson Balton van die Ahmed Kathadra-stigting sê Gordhan het deurgaans in sy loopbaan as politieke aktivis, hom beywer vir die opbou en versterking van openbare instellings om Grondwetlike demokrasie te ondersteun:
# Die MK-party sê die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette is ‘n kritieke stap tot inklusiewe en gehalte onderwys. President Cyril Ramaphosa gaan die wetsontwerp vandag onderteken. Die party sê hy ondersteun die verpligte graad R-onderwys en erken die noodsaaklikheid van ‘n sterk basis vir ‘n kind se toekomstige onderrig. Hy sê die stap om taalbeleid in skole te reguleer is nodig om te verseker geen kind word weens taal-hindernisse van gehalte-onderwys ontneem nie.
# Die voormalige Amerikaanse president en Republikeinse Party-kandidaat, Donald Trump, het ‘n versoek van die vise-president en Demokratiese Party-kandidaat, Kamala Harris vir nog ‘n debat voor die verkiesing in November van die hand gewys. Verskeie kitspeilings ná Dinsdag se 90-minute lange debat op ABC News, dui aan dat kiesers van mening is Harris het beter gevaar as haar Republikeinse teenstander. Trump sê Harris wil net nog ‘n debat hê want hy was die besliste wenner:
# Sokker: Die Engelse Premierliga se verhoor van Manchester City se 115 aanklagte begin Maandag. City, wat die Premierliga vir ‘n rekordgetal van vier agtereenvolgende seisoene gewen het, word aangekla van die verbreking van finansiële billikheidsreëls oor ‘n tydperk van nege jaar wat in 2009 begin het en tot 2018 geduur het. City ontken die aanklagtes. Indien die heersende kampioene skuldig bevind word, kan van hulle punte afgetrek word wat beteken hulle kan gerelegeer word, of selfs uit die Premierliga geskop word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-900-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-567-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….