Nuus 08:00
BULLETIN 13 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige minister van Staatsondernemings, Pravin Gordhan is oorlede.
# AfriForum sê die privaat sektor moet munisipaliteite bystaan
# En die VN waarsku teen stygende konflik in Jemen
# Die familie van die voormalige minister van Staatsondernemings, Pravin Gordhan, het bevestig hy is in die ouderdom van 75 in die hospitaal oorlede. Hy het in Mei vanjaar uit die politiek getree wat ‘n einde gebring het aan dekades van leierskapposisies in die staatsdiens. Hy word oorleef deur sy vrou Vanitha en dogters Anisha en Priyesha. Neeson Balton van die Ahmed Kathadra-stigting sê Gordhan het deurgaans in sy loopbaan as politieke aktivis, hom beywer vir die opbou en versterking van openbare instellings om Grondwetlike demokrasie te ondersteun:
# AfriForum sê munisipaliteite kan hulself nie behoorlik bestuur nie, en dit is tyd dat die privaat sektor hul stelsels en prosesse beskikbaar stel om verdere agteruitgang te voorkom. Staatsdepartemente se munisipale skuld landwyd beloop 21-miljard-rand, terwyl munisipaliteite landwyd 100-miljard-rand sal moet bestee om watersuiweringsaanlegte op te gradeer. AfriForum sê burgerlike organisasies en die privaat sektor moet ’n oorsigrol speel, om te verseker dat fondse nie misbruik word nie en om munisipale prosesse doeltreffender te maak.
# ActionSA sê hy is versigtig om die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza se gesamentlike operasie te verwelkom om gemeenskapsveiligheid te verbeter en wet en orde terug te bring. Die burgemeester het vroeër die week ‘n multi-dissiplinêre operasie in Thembisa van stapel gestuur gemik op die oortredings van munisipale regulasies en misdadige bedrywighede. Siyanda Makhubo van ActionSA sê die burgemeester moet sy model van voete op die grond inspan om die probleem van wetteloosheid wat gemeenskappe teister, op te los:
# Die Verenigde Nasies waarsku dat ondanks onlangse ekonomiese afwentelingsooreenkomste, bestaan die gevaar dat ‘n volskaalse oorlog weer in Yemen kan uitbreek, met voortgesette gevegte tussen strydende partye. Meer as 18-miljoen mense, die helfte van die land se bevolking, is afhanklik van humanitêre hulp en beskerming. Die VN se spesiale gesant vir Yemen, Hans Grundberg, sê streekspanning van die oorlog in Gaza maak die krisis in Yemen nog meer ingewikkeld:
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal het hom aan die Laver-beker onttrek. Die 38-jarige Spanjaard het nog nie weer gespeel sedert sy nederlaag saam met Carlos Alcaraz in die kwarteindronde van die mans dubbelspel verlede maand by die Olimpiese Spele in Parys nie. Nadal sê hy glo ander spelers sal help om Span Europa na ‘n oorwinning te lei. Die Laver-beker, ‘n kompetisie tussen die spanne van Europa en die Wêreld, begin Vrydag in Berlyn.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-en-20-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-567-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….