Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen versoek sy personeelhoof se bedanking
# Solidariteit waarsku die BELA-wetsontwerp kan die regering van nasionale eenheid bedreig
# En, rugby: Die Stormers en die Haaie se afrigters is nie tevrede met die uitstel van die VRK se eersterondewedstryde nie
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het Roman Cabanac versoek om as personeelhoof te bedank na kritiek oor sy aanstelling. Cabanac is gekritiseer vir sy uitlokkende potgooi wat die vorige ANC-geleide regering aangeval het. Hy erken sy kritiek was soms onsensitief, maar beweer sy siening het intussen verander. Volgens Steenhuisen oorskadu die omstredenheid die prestasies en vordering van die departement.
# Die vakbond Solidariteit beplan regstappe indien president Cyril Ramaphosa môre die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette onderteken. Die vakbond, die burgerregte-organisasie AfriForum en ander groepe is bereid om hof toe te gaan en beweer dit bedreig die regering van nasionale eenheid se konsensus en hul belange. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, het Ramaphosa beskuldig dat hy sy mandaat oortree en ‘n beroep op politieke vennote gedoen om die wetsontwerp te betwis:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het 161-duisend-607 aansoeke vir belastingaanwysings vir die tweepot-aftreestelsel ontvang. Dit behels in totaal 4,1-miljard-rand. Die kommissaris van die diens, Edward Kieswetter verduidelik pensioenbydraes word tydens onttrekking belas teen die individu se marginale koers. Fonds-administrateurs sal na verwagting belastingaanwysings indien met eFiling, wat bepaal hoeveel belasting teruggehou moet word. As die belastingbetaler die diens geld skuld, word dit by die belasting op die onttrekking gevoeg, behalwe as ‘n betalingsooreenkoms aangegaan is. Uitgestelde belastingskuld word ook nie onmiddellik afgetrek nie.
# Die Stad Kaapstad verwag in die naderende Desember-vakansie ‘n rekordgetal besoekers. Tussen Januarie en Maart vanjaar was daar ʼn jaarlikse toename van 16-persent in toeriste wat per lug na Kaapstad reis. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hulle wil Kaapstad met meer sleutel-bronmarkte verbind:
# Rugby: Die afrigters van die Stormers en die Haaie is nie beïndruk met die besluit om hulle Verenigde Rugbykampioenskaps-openingswedstryde van dié maand na iewers volgende jaar te verskuif nie. Dit is gedoen om plek in te ruim vir die Curriebeker-eindstryd. John Dobson en John Plumtree sê die Bulle was ook gekant teen die uitstel, terwyl slegs die Leeus ten gunste van die later datums was. Volgens Plumtree moet hulle nou kopkrap om die blaaskans-protokolle van hulle Springbokke in te pas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-62-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-520-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….