Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola sê die polisie stel nog hulpbronne beskikbaar om afpersing en ander misdaad te bekamp
# Cosatu verwelkom môre se beplande ondertekening van die Bela-wet [
# En, rugby: Phillip Snyman word amptelik aangestel as die Blitsbokke se hoofafrigter
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê hulle stel meer hulpbronne beskikbaar vir ekonomiese infrastruktuur-taakspanne in Gauteng, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Die doel is om afpersing en ander misdaad te bekamp. Drie-en-sewentig-persent van alle afpersingsvoorvalle kom in hierdie vier provinsies voor. Masemola het met die media gepraat oor die afgelope maand se landwye operasies. Hy sê hulle het misdaadgroepe geïdentifiseer wat by sommige van die voorvalle betrokke is:
# Cosatu verwelkom môre se beplande ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. President Cyril Ramaphosa sal dit in die Uniegebou in Pretoria onderteken, ondanks besware van sommige politieke partye en organisasies. Matthew Parks van Cosatu sê die Bela-wet bevat bepalings wat sin maak, en progressiewe voorsienings wat lank reeds ingestel moes word. Hy sê dit sal leerders se reg op waardigheid en beskerming verseker:
# Hoenderpryse sal na verwagting vanjaar met slegs een-persent styg, vergeleke met onlangse dubbelsyfer-verhogings. Volgens Absa se AgriTrends-verslag is die sleutelfaktore ‘n sterker rand en hoër wêreldwye produksie, veral in Brasilië. Marlene Louw van die bank sê die uitbreking van siektes soos voëlgriep het ‘n wêreldwye tekort aan hoender veroorsaak, wat pryse laat opskiet het. Pluimveeprodukte verteenwoordig sowat twee-derdes van vleisverbruik in Suid-Afrika, terwyl 20-persent van plaaslike verbruik van invoere kom.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê wat in Gaza gebeur is onaanvaarbaar, en die flagrante skending van internasionale humanitêre wetgewing moet onmiddellik end kry. ‘n Israelse lugaanval op ‘n skool in sentraal-Gaza wat as ‘n skuiling vir daklose Palestyne gebruik is, het tot die dood van 18 mense gelei. Onder die sterftes is ses lede van die VN se Palestynse vlugtelingsagentskap, UNRWA. Die skool het skuiling aan sowat 12-duisend mense gebied, hoofsaaklik vroue en kinders. Die agentskap sê dit is die hoogste dodetal van sy personeel in ‘n enkele voorval.
# Rugby: SA Rugby het die gewese kaptein van die Springbok Sewes, Phillip Snyman, amptelik aangestel as hoofafrigter van die Blitsbokke tot die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028. Hy het die afgelope ses maande waargeneem. Die Blitsbokke het onder sy leiding die bronsmedalje gewen op die Spele in Parys. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die manier waarop Snyman die Blitsbokke weer op die wenpad gekry het, spreek boekdele van sy vermoëns as breier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-230-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….