Nuus 11:00
BULLETIN 12 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê sy oorwinnings in tussenverkiesings wys mense wil bekwame bestuur hê
# Drie mense is dood en vyf beseer in ‘n skietery in ‘n haarsalon in Nyanga, Kaapstad
# En, ses personeellede van die VN se vlugteling-agentskap is onder die 18 sterfgevalle na ‘n Israelse lugaanval in Gaza
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die dawerende sukses in die tussenverkiesings wat gister gehou is, beklemtoon groei en die onwrikbare vertroue wat Suid-Afrikaners stel in die party se vermoë om eerlike, verantwoordbare bestuur te lewer. Die DA het 17 wyke regoor die land betwis en 16 van hulle gewen. In KwaZulu-Natal het die party alle tussenverkiesings gewen waaraan hy deelgeneem het, insluitend drie wyke in eThekwini. Hy het ook in Limpopo, die Vrystaat en Noordwes gewen. Steenhuisen sê hulle bly daartoe verbind om doeltreffende, diensgedrewe bestuur na elke uithoek van die land te bring.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om môre die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette te bekragtig. Die Nasionale Vergadering het die wetsontwerp in Mei aanvaar. Die doel is om beheer oor die land se onderwyssektor te verskerp. Sadou se woordvoerder, Xolani Fakude, sê hulle verwelkom dit dat die wetsontwerp elke ouer aanspreeklik wil hou vir hul kind se onderwys:
# Speurders van die Wes-Kaapse Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid soek gewapende mans wat drie mans in Nyanga, Kaapstad, doodgeskiet en vyf gewond het. Polisiewoordvoerder André Traut sê vier mans gewapen met twee gewere en twee pistole het die agt slagoffers by ‘n haarsalon genader, waar hulle twee mense op die toneel doodgeskiet het. Hy sê ses mense is in die hospitaal opgeneem en ‘n derde man het met sy aankoms aan sy wonde beswyk:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê wat in Gaza gebeur is onaanvaarbaar en die flagrante skending van internasionale humanitêre wetgewing, en moet onmiddellik end kry. ‘n Israelse lugaanval op ‘n skool in sentraal-Gaza wat as ‘n skuiling vir daklose Palestyne gebruik is, het tot die dood van 18 mense gelei. Onder die sterftes is ses lede van die VN se Palestynse vlugtelingsagentskap, UNRWA. Die skool het skuiling aan sowat 12-duisend mense gebied, hoofsaaklik vroue en kinders. Die agentskap sê dit is die hoogste dodetal van sy personeel in ‘n enkele voorval.
# Sokker: Die Engelse reus Manchester United het ‘n netto verlies van 2,6-miljard-rand gely in die eerste ses maande van 2024. Dit volg op verliese van 672-miljoen-rand in die 2022/’23-boekjaar, en 2,7-miljard-rand die vorige jaar. BBC Sport berig daar word nietemin verwag United sal nie die Premierliga se wins- en volhoubaarheidsreëls oortree nie, wat hulle punte sal kos. Die Britse miljardêr, Jim Ratcliffe, het verlede jaar ‘n 27,7-persent aandeel in die klub gekoop, terwyl United onlangs aangekondig het daar word 250 poste gesny om koste te verminder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-922-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….