Nuus 09:00
BULLETIN 12 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwelkom die herlewing van die nasionalisering van die Reserwebank
# Die GOOD-party sê die Zondo-kommissie se getuienis moet openbaar gemaak word
# En 67,1-miljoen mense het die Harris-Trump presidensiële debat gekyk
# Die EFF het die Parlement se staande komitee oor Finansies se besluit verwelkom om die privaatlede-wetsontwerp te laat herleef en openbare verhore te hou. Die EFF se leier, Julius Malema het die wetsontwerp, wat daarop gemik is om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer, in die sesde Parlement ingedien. Dit het egter saam met tientalle ander verval wat nie verwerk kon word voordat die Parlement vir die Mei-verkiesing ontbind het nie. Die EFF sê die Reserwebank sal binnekort genasionaliseer word en ‘n nasionale hulpbron word wat die belange van die meerderheid dien, eerder as om die belange van ‘n paar bevoorregtes te beskerm.
# Die GOOD-party sê getuienis wat die Zondo-kommissie ingesamel het moet nie slegs vir die Nasionale Vervolgingsgesag toeganklik wees nie, maar ook vir die publiek. Dit volg na die NVG die Departement van Justisie beskuldig het dat hy hom verhinder om toegang tot die bewyse-databasis van die kommissie te kry. Die sekretaris-generaal van die GOOD-party, Brett Herron, sê deur sulke getuienis aan gewone Suid-Afrikaners bekend te maak, sal die land broodnodige bykomende vlakke van aanspreeklikheid opbou:
# Die eerste presidensiële debat tussen Amerika se visepresident Kamala Harris en oudpresident Donald Trump het Dinsdagaand ‘n geskatte 67,1-miljoen kykers op 17 televisienetwerke gelok. Dit is 31-persent meer as die debat in Junie tussen Trump en president Joe Biden, wat intussen sy veldtog laat vaar het. Volgens Nielsen-data kom die Harris/Trump-debat nie naby ʼn rekord-kykerstal vir ʼn presidensiële debat nie. In 2016 het 84-miljoen mense na Trump en Hillary Clinton se eerste debat gekyk.
# Krieket: Australië het Engeland met 28 lopies in die eerste T20-Internasionale reeks in Southampton geklop. Travis Head het 58 van 23 balle aangeteken en het saam die ander openingskolwer, Matthew Short, 86 lopies behaal. Liam Livingstone het drie paaltjies laat kantel. Engeland, met drie nuwe T20 spelers in hulle geledere, en wat vir die eerste keer deur Phil Salt gelei is, het 151, almal uit, aangeteken. Australië se kaptein Mitchell Marsh, was vol lof vir Head:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-187-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse sangeres, Tyla, het haar eerste MTV Video Music-toekenning vir Best Afrobeats gewen vir haar trefferliedjie, Water. Sy het geskiedenis gemaak as die eerste vroulike Afrika-kunstenaar wat ʼn MVA wen. Taylor Swift, wat 12 keer benoem is, het sewe opgeraap. Dit sluit in Kunstenaar van die Jaar en Beste Samewerking vir Fortnight saam met Post Malone. Sy spog nou met die meeste toekennings in MVA-geskiedenis. Tyla sê die uitwerking wat haar liedjies wêreldwyd het, bewys dat Afrika-musiek ook popmusiek kan wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….