Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen waarsku Ramaphosa teen die ondertekening van die Bela-wetsontwerp
# Taylor Swift steun Kamala Harris om Amerika se volgende president te word
# En, sokker: Hugo Broos is tevrede met Bafana se oorwinning maar nie met hul vertoning nie
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê indien president Cyril Ramaphosa Vrydag die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette onderteken, sal dit ‘n skending wees van die gesamentlike verklaring van voorneme deur die regering van nasionale eenheid. Hy sê die DA het dit tydens die onderhandelings duidelik gemaak dat die wetsontwerp in sy huidige vorm onaanvaarbaar is omdat dit grondwetlike gevolge inhou, onder meer oor die reg op moedertaalonderrig. Steenhuisen sê die wetsontwerp moet na die Parlement terugverwys word vir wysigings.
‘n Taakspan van die Raad op Onderwys-arbeidsverhoudinge het intussen strenger kriteria voorgestel vir die aanstelling van skoolhoofde om bestuursgehalte te verbeter. Volgens die nuwe voorstel moet kandidate vir skoolhoofposte minstens sewe jaar onderwys-ondervinding hê, wat drie jaar insluit as ‘n adjunkhoof of vyf jaar as ‘n departementshoof. ‘n Onderwyser kan tans bevorder word tot skoolhoof sonder bestuursondervinding. Die voorstel sal Vrydag bespreek word op die raad se vergadering.
# Build One South Africa het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, gevra om die uittreepakketbetalings aan die voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Portia Derby, en die hoof van Spoor, Sizakele Mzimela, om te keer en te kanselleer. Derby sal 11,9-miljoen-rand kry terwyl Mzimela 9,2-miljoen-rand in die sak sal steek. Roger Solomons van BOSA sê hierdie betalings is ‘n klap in die gesig, veral vir die miljoene wat staatmaak op die sukkelende treindienste vir hulle daaglikse pendelritte:
# Die popster Taylor Swift het amptelik haar steun aan Amerika se adjunk-president, Kamala Harris, toegesê. Dit volg ná die presidentsdebat tussen Harris en die gewese president en kandidaat van die Republikeinse Party, Donald Trump. Swift het in ‘n plasing op Instagram gesê Harris is ‘n bestendige en begaafde leier en sy glo hulle kan soveel meer vir Amerika regkry indien kalmte aan die dag gelê word en nie chaos nie. Swift het ook in 2020 vir Biden en Harris gesteun.
# Sokker: ‘n Doel in die doodsnikke van hul wedstryd teen Suid-Soedan het aan Bafana Bafana ‘n belangrike oorwinning van 3-2 besorg in hul Afrikabeker-kwalifiseerder in Juba. Bafana se afrigter, Hugo Broos, was nie tevrede met hul vertoning nie en glo sy span kon die wendoel reeds in die eerste helfte aangeteken het. Hy is egter bly oor die drie punte wat Suid-Afrika in sy wegwedstryd behaal het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-576-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-523-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….