Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop vandag af met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus besef die groep wat hy gekies het vir volgende naweek se Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Santiago sal deeglik beproef word. Hy verwag ‘n reusekragmeting voor ʼn vyandiggesinde skare met die kampioenskapstitel op die spel. Suid-Afrika benodig nog net drie punte terwyl die Pumas die maksimum aantal punte uit die twee kragmetings met die Springbokke moet verdien om die eerste keer as kampioen gekroon te word. Erasmus laat ʼn paar eerstekeuse-spelers rus, want ander moet ook wedstrydoefening kry in aanloop tot die volgende Wêreldbekertoernooi.
Nog rugbynuus: Die Bulle se afrigter, Jake White, sê sy span is waarskynlik die naaste ooit daaraan om die balans tussen jeug en ervaring in die groep reg te kry. Hulle het verlede jaar die titel in die Verenigde Rugbykampioenskap misgeloop toe hulle teen Glasgow Warriors verloor het. White sê hy hoop die ervaring wat hulle opgedoen het, sal sy span help in die kampioenskap se uitspeelrondes:
# Sokker is volgende aan die beurt: ‘n Doel in die doodsnikke van hul wedstryd teen Suid-Soedan het aan Bafana Bafana ‘n belangrike oorwinning van 3-2 besorg in hul Afrikabeker-kwalifiseerder in Juba. Bafana se afrigter, Hugo Broos, was nie tevrede met hul vertoning nie en glo sy span kon die wendoel reeds in die eerste helfte aangeteken het. Hy is egter bly oor die drie punte wat Suid-Afrika in sy wegwedstryd behaal het:
Nog sokkernuus: Die voormalige afrigter van Tottenham en Chelsea, Mauricio Pochettino, is aangestel as hoofafrigter van Amerika se nasionale manspan. Hy vervang Gregg Berhalter, wat in Julie afgedank is. Die 52-jarige Argentyn sal die land na 2026 se Wêreldbekertoernooi lei wat in Amerika, Kanada en Mexiko plaasvind. Amerika se sokker-sportdirekteur, Matt Crocker, sê Pochettino is ʼn reeks-wenner met ʼn groot passie vir die ontwikkeling van spelers:
# Ons sluit af met krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, sal die reeks van drie T20-wedstryde teen Australië misloop, wat vandag in Southampton begin. Hy sukkel met ‘n kuitbesering en die span sal gelei word deur Phil Salt. Daar is ook twyfel oor Buttler vir die eendagwedstryde, en Harry Brook sal na verwagting as kaptein oorneem as hy nie fiks is nie. Die tweede T20 word Vrydag in Cardiff gespeel en die laaste een Sondag in Manchester, gevolg deur die vyf eendagwedstryde van volgende Donderdag tot die 29ste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….