Nuus 06:00
BULLETIN 11 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika gaan volksmoordbewyse teen Israel indien
# Pravin Gordhan is in die hospitaal opgeneem
# En die ANC gaan optree teen lede wat die MK-party ondersteun het
# Suid-Afrika gaan aanstaande maand sy klagskrif by die Internasionale Geregshof in Den Haag indien om te bewys Israel pleeg volksmoord in Palestina. Lande soos Nicaragua, Palestina, Turkye, Spanje, Mexiko, Libië en Colombia ondersteun Suid-Afrika se saak. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die saak vorm deel van die groter internasionale strewe na vrede in die Midde-Ooste:
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, is in die hospitaal opgeneem. Sy familie sê hy ontvang die beste beskikbare sorg en hulle vra privaatheid in hierdie moeilike tyd. Gordhan het in Mei vanjaar, ná dekades se leierskap in die staatsdiens, uit die politiek getree. Hy het die Departement van Openbare Ondernemings sedert 2018 gelei. Dit is vooraf gegaan deur ‘n ampstermyn bestaande uit ander belangrike leierskaprolle in die regering sedert die koms van demokrasie in die land 30 jaar gelede.
# Die ANC het optrede aangekondig teen partylede wat saam met oudpresident Jacob Zuma se MK-party beplan het om die regerende party in die verkiesing in Mei te onttroon. Dit vorm deel van die ANC se hersiening van die oorsaak vir sy dramatiese agteruitgang en sy verlies aan ‘n volstrekte meerderheid. Volgens die sekretaris-generaal Fikile Mbalula is die hoofredes vir die afname beurtkrag, die waterkrisis, en misdaad. Hy sê ‘n leierskapsverandering in KwaZulu-Natal is moontlik nadat die party sy meerderheid verloor het weens die MK se sterk vertoning.
# Die EFF-leier, Julius Malema, vra ‘n ad hoc-komitee om die groeiende afpersingskrisis in Suid-Afrika te ondersoek. Malema het verwys na die toename in mafia-sindikate wat geld by verskeie sektore afpers en ekonomiese skade aanrig. In sy mosie dring hy aan die Parlement moet ingryp en die toenemende afpersingsprobleem aanpak, wat hy as ‘n nasionale krisis en pandemie beskryf:
# Die Stad Tshwane berei voor om van volgende maand af skoon drinkwater te verskaf aan die inwoners van Hammanskraal. Die stad het 37-duisend watermeters in die gebied geoudit en 14-duisend foutiewe meters gevind wat tans kosteloos vervang word. Lindela Mashigo van die stad sê die watervoorsiening sal van volgende maand af in vier fases gebeur:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus besef die groep wat hy gekies het vir aanstaande naweek se toets in die Rugbykampioenskap teen Argentinië in Santiago sal deeglik beproef word. Hy verwag ‘n reusekragmeting voor ʼn vyandiggesinde skare met die kampioenskapstitel op die spel. Suid-Afrika benodig nog net drie punte terwyl die Pumas die maksimum getal punte uit die twee kragmetings met die Springbokke moet verdien om die eerste keer as kampioene gekroon te word. Erasmus laat ʼn paar eerstekeuse-spelers rus want ander moet ook wedstrydoefening kry in aanloop tot die volgende Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-735-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….