Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie gaan aandag gee aan onregmatige inhegtenisnemings en finansiële eise
# Die Oos-Kaapse premier lê ‘n klag teen die AbaThembu koning oor aantygings van afpersing
# En, rugby: Rassie Erasmus wys ‘n groep van 28 aan om na Argentinië te reis
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bekendgemaak dat ‘n deeglike hersiening onderneem sal word na aanleiding van die meer as vier-duisend onregmatige inhegtenisnemings, en eise van altesaam meer as twee-miljard-rand teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens die afgelope jaar. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê maatreëls sal ingestel word vir aanspreeklikheid en om die doeltreffendheid van wetstoepassingsgebruike te verbeter:
# Die premier van die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, en die LUR vir Veiligheid en Sekerheid, Xolile Nqatha, het ‘n klagte teen die AbaThembu-koning, Buyelekhaya Dalindyebo, gelê ná bewerings van afpersing. Mabuyane het die koning se beskuldigings verwerp dat hy voordeel getrek het uit die beweerde afpersingsbedrywighede van wyle Dalinzolo Mareke. Mareke is op 4 September in ‘n polisieskietgeveg dood. Mabuyane het die koning gevra om bewyse te gee, en die behoefte aan ‘n deeglike polisie-ondersoek beklemtoon:
# Media Monitoring Africa het kommer uitgespreek oor openbare toegang tot parlementêre verrigtinge. Twee jaar ná die brand wat dele van die parlementêre kompleks beskadig het, sukkel die instelling steeds met die beveiliging van sekere plekke. Die terugkeer van vergaderings na fisiese liggings na die ontwrigtings van Covid-19, maak dit ‘n uitdaging om geskikte plekke te vind. William Bird van die moniteringsorganisasie sê die vertraging beïnvloed moontlike deursigtigheid en toeganklikheid vir die publiek
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het Johan Grobbelaar teruggeroep na sy groep van 28 spelers wat die 21ste in Santiago teen Argentinië speel. Hy bied dekking op haker saam met Malcolm Marx en Jan-Hendrik Wessels, wat ook stut kan speel. Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Pieter-Steph du Toit, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian de Allende, Cheslin Kolbe en Willie le Roux kry ‘n welverdiende blaaskans. Lukhanyo Am en Jesse Kriel is die enigste twee spesialis-senters, maar Canan Moodie kan senter, vleuel en heelagter speel. Die groep kom môre saam en vertrek Saterdag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-674-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-64-sent per vat.
# Ten slotte: China se geskiedkundige poging om monsters van Mars terug te bring kan reeds in 2028 gebeur, twee jaar vroeër as beplan. Die Tainwen-3-sending sal twee lanserings behels. Die verwagte lansering is baie meer ambisieus as die teiken van 2030 wat lugvaartamptenare vroeër vanjaar aangekondig het, hoewel die tydlyn die afgelope jare gewissel het. China het die eerste monsters van die donker kant van die maan in Junie vanjaar gaan haal. NASA se pogings om monsters op Mars op te pik word nog hersien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….