Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zizi Kodwa en sy medebeskuldigde Jehan Mackay se korrupsiesaak word tot 3 Oktober uitgestel
# Krieket: Die Protea-afrigter Rob Walter wil meer veelsydige spelers ontwikkel
# En, Harvey Weinstein ondergaan ‘n nood-hartoperasie
# Die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge in Gauteng het die korrupsiesaak teen die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die voormalige EOH-direkteur, Jehan MacKay, tot 3 Oktober uitgestel. Die vertraging is te wyte aan die direkteur van Openbare Vervolging wat steeds wag op vertoë vanaf MacKay se regspan. Die twee staan tereg op aanklagte wat verband hou met meer as 1,6-miljoen-rand se beweerde omkoopgeld vir staats-inligtingstegnologie-tenders. Kodwa se regsverteenwoordiger, Zola Majavu, het sy frustrasie uitgespreek oor die vertragings:
# Die Landdroshof in Mankweng, Limpopo, het die borgtogaansoeke van drie mans uitgestel, wat beskuldig word van die moord op twee vroue wie se liggame aan varke gevoer is. Die boer, Zachariah Olivier, en twee werknemers, Rudolph de Wet en William Musoro, staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade, poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Landdros Arshard Chaia het die saak na die Streekhof in Polokwane oorgeplaas:
# Die Vaalrivier is nou amptelik weer vir bote oopgestel na 398 hektaar van indringerplante, insluitend waterslaai en waterhiasinte, verwyder is. Die oorgroeide rivier het sigbaarheid tot minder as ‘n hektaar verminder, wat toerisme en bootbedrywighede ontwrig het. Plaaslike owerhede, gemeenskapsgroepe en Rand Water het saam gewerk aan die projek van tien-miljoen-rand. Die heropening bring verligting vir die Vaal se gasvryheidsbedryf en die lente-seilbootseisoen.
# Krieket: Verskeie sleutelspelers kry ’n blaaskans tydens die Proteas se toer na die Verenigde Arabiese Emirate vir drie eendagwedstryde teen Afganistan en twee T20’s en drie eendagwedstryde teen Ierland. Die 21-jarige veelsydige Andile Simelane van die Dolphins is die eerste keer ingesluit om blootstelling op nasionale vlak te kry. Nog ’n veelsydige Dolphins-speler, Jason Smith, en die draaibouler van die Lions, Nqaba Peter, is albei die eerste keer in die eendaggroep ingesluit. Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, sê hulle wil meer veelsydige spelers ontwikkel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-175-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-505-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die onteerde Hollywood-vervaardiger, Harvey Weinstein, is in die waakeenheid waar hy herstel ná ‘n noodhartoperasie. Die 72-jarige is uit die Rikers Island-gevangenis geneem, waar hy ‘n vonnis vir verkragting uitdien, en na die Bellevue-hospitaal in New York geneem. Weinstein het ‘n prosedure ondergaan om vloeistof om die hart en longe te verwyder, maar is nie in ‘n bedenklike toestand nie. Hy word op 12 September herverhoor nadat sy skuldigbevinding aan verkragting in 2020 uitgegooi is. Weinstein dien 16-jaar tronkstraf uit vir nog ‘n verkragting in 2022.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….