Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die plaasmoordbeskuldigdes van Limpopo se borgtogaansoeke word tot 2 Oktober uitgestel
# Minister Ramokgopa verwelkom die EU-toelaes om die groenwaterstofbedryf ‘n hupstoot te gee
# En, sokker: Harry Kane speel vanaand sy 100ste wedstryd vir Engeland teen Finland op Wembley
# Die Landdroshof in Mankweng, Limpopo, het die borgtogaansoeke van drie mans uitgestel, wat beskuldig word van die moord op twee vroue wie se liggame aan varke gevoer is. Die boer, Zachariah Olivier, en twee werknemers, Rudolph de Wet en William Musoro, staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade, poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Landdros Arshard Chaia het die saak na die Streekhof in Polokwane oorgeplaas:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê twee toelaes van die Europese Unie van altesaam sowat 630-miljoen-rand is ‘n positiewe stap na die Billike Energie-oordrag. Die eerste toekenning van 140-miljoen-rand sal Transnet se groenwaterstofprojekte aanhelp, terwyl die res die nasionale groenwaterstof-waardeketting sal versterk. Ramokgopa het Suid-Afrika se potensiaal uitgelig om ‘n sleutelspeler in die skoonenergie-revolusie te word:
# Suid-Afrika se grootste aftreefonds-adminstrateur, Alexforbes, het in die eerste week van die tweepot-aftreestelsel 400-miljoen-rand se onttrekkings verwerk. Die stelsel laat mense toe om tot tien-persent van hulle aftreespaargeld te onttrek. Die stelsel het oorweldigende belangstelling ontlok met Alexforbes se platform wat meer as 560-duisend interaksies hanteer het. Die maatskappy en andere, soos Ou Mutual en Sanlam, doen ‘n beroep op mense om fondse slegs vir noodgevalle te onttrek en benadruk die belangrikheid om aftreespaargeld te bewaar.
# Sokker: Harry Kane word vanaand die tiende speler wat 100 keer vir Engeland speel wanneer hy die span teen Finland op Wembley aanvoer. Die organiseerders hou voor die UEFA-nasiesliga-kragmeting ‘n spesiale plegtigheid wat die oorhandiging van ‘n goue pet insluit. Kane is die eerste speler wat 100 wedstryde vir Engeland speel sedert Wayne Rooney. Hy het in sy internasionale loopbaan in meer groot eindstryde gespeel as enige ander Engelsman en het in meer mededingende wedstryde gespeel as enige ander senior internasionale manspeler.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-18-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-508-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Morgan Wallen het die meeste benoemings vir Country-musiektoekennings ontvang – altesaam sewe – insluitend dié van Sanger van die Jaar. Kelsea Ballerini, Ashley McBryde, en Kacey Musgraves is sommige van die benoemdes vir Sangeres van die Jaar. Ander kunstenaars wat die lys vir Album van die Jaar gehaal het, sluit in Kacey Musgrave se Deeper Well, Chris Stapleton vir Higher, and Jelly Roll vir Whitsitt Chapel. Beyoncé is oorgesien, ondanks een van haar grootste country-treffers van die jaar, Texas Hold’em. Die wenners word in November aangewys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….