Nuus 09:00
BULLETIN 10 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement vra vir geregtigheid vir die listeriose-slagoffers
# Minister Chikunga sal vandag die varkplaasmoordsaak in Limpopo bywoon
# En die verwydering van radioaktiewe rommel in Fukushima begin vandag
# Die African Transformation Movement het sy verontwaardiging uitgespreek oor die gebrek aan aanspreeklikheid en geregtigheid vir die slagoffers van die listeriose-uitbreking. Tiger Brands se Enterprise Foods-fabriek in Polokwane is in 2018 geïdentifiseer as die bron van ‘n listeriose uitbreking wat tussen 2017 en 2018 218 mense gedood het. Dit is ses jaar later en die klasaksie wat namens slagoffers en hulle families van stapel gestuur is, moet nog in die hof aangehoor word. Die woordvoerder van ATM, Zama Ntshona, sê hulle doen ‘n beroep op alle partye om die vertragingstaktieke te staak:
# Die Minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, gaan vandag die varkplaasmoordsaak in Limpopo by die Mankweng-landdroshof bywoon. Twee vroue is vermoor terwyl hulle vir kos op ‘n plaas in Onverwacht gesoek het en hulle liggame is later na bewering aan varke gevoer. Die boer, Zachariah Olivier en twee van sy werknemers word van die moorde aangekla. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê die Limpopo premier, Phophi Ramathuba sal haar by die minister aansluit:
# Die Cape Independence-voorstandersgroep sê die nasionale regering se onlangse besluit om die Wes-Kaap se onderwysbegroting met 3.8-miljard-rand oor die volgende drie jaar te sny, is ontstellend. Die begrotingsvermindering het veroorsaak dat die provinsiale Onderwysdepartement meer as twee-duisend onderwysposte moet sny. Joan Swart van die groep sê kinderopvoeding moet nie gyselaar gehou word vir die mislukkings van die nasionale regering wat uit voeling is nie:
# Die operateur van die Fukushima-kernkragsentrale in Japan begin vandag met die toetsverwydering van hoogs radioaktiewe afval nadat ‘n vroeëre poging opgeskort is. Fukushima-Daiichi is 13 jaar deur ‘n aardbewing met ‘n sterkte van 9 en ‘n gepaardgaande tsoenami getref, in een van die wêreld se ergste kernongelukke. Daar is steeds sowat 880 ton uiters gevaarlike materiaal in die aanleg se reaktors. Die verwydering van die puin word beskou as die grootste uitdaging in die dekades lange projek om die aanleg toe te maak.
# Die Wêreldagentskap teen Opkikkers het sy beroep op die Amerikaanse Teen-opkikkkersagentskap herhaal om skoon sport in Amerika beter te beskerm. Twee-en-dertig nasionale en streek teen-opkikkersorganisasies in Europa, Asië en Afrika het hulle kommer uitgespreek dat Amerika atlete na groot byeenkomste stuur sonder om hulle behoorlik vooraf te toets. Volgens die wêreldliggaam neem 90-persent van alle sportlui in Amerika buite die beskerming van die teenopkikkerskode aan sportbyeenkomste deel. Die Amerikaanse agentskap sê die wêreldliggaam probeer om die aandag af te lei van hulle versuim om hulle werk as die wêreldwye reguleerder te doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-592-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….