Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Tiger Brands staar hernude druk in die gesig nadat van die slagoffers in die listeriose-uitbreking in 2018 ‘n beroep op die voedselprodusent gedoen het om aanspreeklikheid te erken en sy klasaksie-geding te skik.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê krag- en waterprobleme, swak bestuur, onwettige immigrasie en hoë misdaadsyfers is van die faktore wat tot die ANC in Gauteng se swakker vertoning in die verkiesing bygedra het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n skenking van twee-miljoen-rand wat sy kinderfonds ontvang het.
# Sowetan:
Berig oor die staat se kommer oor die sogenaamde simpatieke optrede van landdros Katlego Mokoena in die saak teen die omstrede pastoor Mboro Motsoeneng. Die staat wil hê die landdros moet onttrek.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die Mboro-saak en die staat wat die landdros se integriteit bevraagteken.
En berig oor die hofuitspraak teen die tien MK-LP’s wat hul poste in die Parlement wil terughê.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die MK-LP’s. Die koerant lei met die hoofopskrif: “ZUMA IS MK DICTATOR” en berig die LP’s het in die hof aangevoer die oudpresident neem al die besluite in die party.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die balju het toegeslaan op die inhoud van ‘n huis wat na bewering deur die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg gehuur word.
Dan skryf die koerant Grey Kollege het op die krieketveld wraak geneem teen die Paul Roos Gimnasium nadat hulle vroeër vanjaar die knie moes buig op die rugbyveld.
En laastens is daar nuus oor die lente wat oral kop uitsteek in die Vrystaat en Noord-Kaap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 25ste geval van a-pokke in Suid-Afrika sedert Mei is in Kaapstad aangemeld. Kontak-opsporing word nou gedoen want die man het nie onlangs buite die landsgrense gereis nie.
Tweedens skryf die koerant die Kaapstad-metro het sedert verlede jaar reeds meer as 400 verlate geboue gesluit. Daar word tans opgetree in 27 gevalle.
En laastens word berig die polisie het op vals Bok-handelsware van meer as 200-duisend-rand beslag gelê.
# En Cape Times:
Skryf Sadou is steeds van voorneme om te staak indien die afskaffing van onderwysposte voortgaan.
En berig ook oor die 10 MK-LP’s.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n hoëvlak-vergadering tussen die ANC en DA in Nelson Mandelabaai later die week sal ‘n beslissende rol speel in die samestelling van ‘n nuwe regering in die stad.
En tweedens skryf die koerant die Departement van Korrektiewe Dienste wil selfoon- en seinbelemmers by die St Albans-gevangenis gebruik om te keer dat misdaad vanuit die gevangenis beplan word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die plaaslike verkeerspolisie en sekerheidspersoneel staak.
En berig oor Siya Kolisi se terugkeer na die Haaie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dit was ’n vreugdevolle oomblik vir jongmense binne Swapo-geledere toe talle van hulle ’n plek op die party se parlementêre lys losgeslaan het.
En tweedens skryf die koerant die Owela Display and Educational Centre is reeds vier jaar tydelik gesluit hoewel die behoefte aan noodsaaklike opknappings aan die gebou reeds in 2022 geïdentifiseer is.