Nuus 07:00
BULLETIN 10 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC het ‘n verslag van die minister van Justisie oor die VBS-bank ontvang
# AfriForum eis antwoorde oor sekerheidsprobleme in die Weermag
# En die ikoniese akteur James Earl Jones is oorlede
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê president Cyril Ramaphosa kan die minister van Justisie, Thembi Simelane, se lot in haar huidige posisie bepaal en nie die party nie. Simelane het in 2016, terwyl sy burgemeester van Polokwane was, ‘n lening ontvang wat met Gundo Wealth Solutions verbind word. Dié maatskappy word by die VBS Mutual Bank-skandaal betrek. Die Polokwane-munisipaliteit het op daardie stadium 349-miljoen-rand by die bank belê in ʼn transaksie waar Gundo as makelaar opgetree het. Mbalula sê die party het ʼn verslag van die minister ontvang:
# AfriForum is besorg oor die sekerheidsmislukkings by die SANW-ammunisiedepot naby Jan Kempdorp in die Noord-Kaap. Jacques Broodryk van AfriForum sê die organisasie eis die minister van Verdediging, Angie Motshekga, moet die kwessies aanspreek, insluitende voorvalle van betreding. Hy vra vir onmiddellike optrede om die fasiliteit te beveilig en waarsku oor risiko’s vir die depot en die omliggende gemeenskap:
# Die staat het ʼn aansoek by die Palm Ridge-landdroshof ingedien dat die sittende landdros, Katlego Mokoena, haar aan die omstrede Paseka Motsoeneng, ook bekend as pastoor Mboro, se saak onttrek. Motsoeneng se prokureur het die aansoek veroordeel en sê dis net nog ʼn vertragingstaktiek van die staat. Die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê hulle glo Mokoena sal moontlik nie die saak op onbevooroordeelde wyse hanteer nie.
# Die Siriese ministerie van Buitelandse Sake het Israelse lugaanvalle wat die dood van minstens 18 mense in sentraal-Sirië veroorsaak het, veroordeel en beskryf dit as blatante aggressie. Meer as 30 mense is beseer in die aanvalle wat talle militêre terreine getref het. Dit sluit ʼn wetenskaplike navorsingsentrum naby Masyaf in waar wapens ontwikkel word. Israel het beloof om te keer dat Iran hom in Sirië ingrawe, veral omdat Sirië ʼn belangrike roete is waarop Iran wapens aan die Libanese militante groep, Hisbolla, stuur.
# Tennis: Jessica Pegula het Coco Gauff vervang as die Verenigde State se beste vrouespeler nadat sy in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Aryna Sabalenka, van Belarus verloor het. Pegula is nou die wêreld se nommer drie ná Iga Swiatek van Pole en Sabalenka, terwyl Gauff tot sesde teruggesak het. Elena Rybakina van Kazakstan is steeds vierde, die Italianer Jasmine Paolini vyfde en Zheng Qinwen van China sewende. Die Amerikaner Emma Navarro het vier plekke tot by agtste gevorder. Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek en Maria Sakkari van Griekeland voltooi die top tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-832-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Die film-, TV- en teater-akteur, James Earl Jones, is op 93-jarige leeftyd dood. Hy was veral bekend as die stem van die Star Wars-skurk Darth Vader, en die stem van koning Mufasa in Disney se animasiefliek, The Lion King. Jones het in sy loopbaan van meer as 60 jaar drie Tony-toekennings ontvang, insluitend twee Emmy’s, ʼn Grammy en in 2011 ʼn ere-Oscar. Walt Disney se uitvoerende hoof, Bob Iger, sê die stories waaraan Jones lewe gegee het, het ʼn onuitwisbare indruk op talle geslagte gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….