Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe en sy vrou, Layla, het die Cheslin Kolbe-stigting in Kaapstad bekendgestel. Dit wil ‘n positiewe uitwerking hê op minderbevoorregte gemeenskappe soos Kraaifontein, waar hy grootgeword het. Die stigting sal fokus op sporthulpbronne, bewusmaking van bendegeweld, voedselsekerheid en skoolbesoeke en -opheffing. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die Kolbe’s se passie om terug te gee is ʼn voorbeeld van wat dit beteken om ʼn verskil te maak.
# Die Universiteit van Pretoria het sy gerespekteerde dosent, Lizette Kotzé, vereer deur ʼn fonds te stig wat benadeelde studente bevoordeel. Kotzé was ʼn dosent aan die Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskap en is in Desember op 48-jarige ouderdom dood. Die universiteit sê die Lizette Kotzé-studentehulpfonds help studente wat finansieel sukkel en uit voorheen benadeelde agtergronde kom. Dit verskaf hulpbronne om akademiese en professionele doelwitte te bereik.
# Die Festival Enterprise Catalyst-projek is ʼn vennootskap tussen Suid-Afrika se grootste kunstefeeste en wil kunstenaars ondersteun en beter samewerking in die kreatiewe bedryf bewerkstellig. Die projek sal met ondersteuning van die Werkefonds oor twee jaar 20-miljoen-rand belê. Dit is om werke reg oor die land te skep, aan te bied, te ondersteun en op toer te neem en so skeppende ondernemings te bevorder. ʼn Woordvoerder van die Werke-fonds, Lionel Kunene, sê die projek sal ʼn mate van volhoubaarheid vir skeppende kunstenaars beteken.
# Die Departement van Basiese Onderwys het deur die Geletterdheidsbevorderings-veldtog saamgespan met verskeie organisasies, insluitend die National Education Collaboration Trust. Die doel is om ‘n inklusiewe kultuur van geletterdheid te skep wat Afrika se ryk taalverskeidenheid in Geletterdheidsmaand vier en integreer. Die departement se woordvoerder, Terrence Khala, sê hulle is deur die vereniging van dié deurslaggewende organisasies vasberade om geletterdheidsgebruike te versterk wat die vasteland se kulturele erfenis weerspieël:
# En ten slotte: Die Wes-Kaap se LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, besoek Beaufort-Wes vandag as deel van die provinsiale Volhoubare Vervoer-program. Hy sal fietse oorhandig aan leerders van die Laerskool Beaufort-West en die Laerskool John D Crawford. Sileku se woordvoerder, Hugo Geldenhuys, sê die verspreiding van fietse sal help om die program se doelstelling te verwesenlik om aan die minderbevoorregtes toegang tot vervoer te verleen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….