Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n FNB senior ekonoom sê die bousentiment neig weer hoër in die derde kwartaal
# Aktiviste en Burgerforum versoek minister Mchunu om die polisie te ondersteun met meer hulpbronne
# En, rugby: Die Haaie bevestig Siya Kolisi keer terug Durban toe
# FNB se senior ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê die Bouvertroue-aanwyser van FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing, wat die sentiment in die bousektor meet, het in die derde kwartaal vanjaar tot 40 gestyg, vanaf 35 in die tweede kwartaal. Volgens Mkhwanazi beteken die huidige vlak van die aanwyser dat 60-persent van die deelnemers ontevrede is met die bestaande saketoestande:
# Die Aktiviste en Burgerforum doen ‘n beroep op die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om die polisie te ondersteun met die nodige hulpbronne om in ooreenstemming te kom met goed-toegeruste misdaadsindikate. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die polisiediens verdien lof en nie net opportunistiese kritiek nie. Hy sê die polisie se jongste statistieke dui aan sake van moord, kaping, verkragting, geslagsgeweld en vrouemoord, transitorooftogte, afpersing, handel in dwelms en die boubedryf-mafia het toegeneem:
# Die regspan van die listeriose-groepsgeding teen Tiger Brands beweer daar is bewyse wat die onderneming verbind met die uitbreking ses jaar gelede waartydens meer as 200 mense dood is. Volgens Daily Maverick beweer die prokureurs die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het bevind die listeriose-stam wat verantwoordelik is, het uitsluitlik by Tiger Brands se Enterprise Foods-fabriek in Polokwane, Limpopo, voorgekom. Die regspan, wat meer as ‘n duisend eisers verteenwoordig, voer aan hierdie bewyse verseker ‘n oorweldigende saak teen die voedselvervaardiger. Tiger Brands sê hy bly daartoe verbind om die regsgeding vinnig op te los.
# Rugby: Die Haaie het bevestig Springbokkaptein Siya Kolisi sal terugkeer huis toe om by die Durbanse span aan te sluit na die afhandeling van sy huidige pligte op nasionale vlak. Die 33-jarige flank maak ‘n welkome terugkeer na Suid-Afrika nadat hy ‘n seisoen deurgebring het by die top Franse klub Racing 92. Die Haaie se direkteur van rugby, Neil Powell, sê Kolisi is ‘n invloedryke speler wie se leierskap en passie wêreldwyd bekend is en gevier word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-337-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe en sy vrou, Layla, het die Cheslin Kolbe-stigting in Kaapstad bekendgestel. Dit wil ʼn positiewe uitwerking hê op minderbevoorregte gemeenskappe soos Kraaifontein, waar hy grootgeword het. Die stigting sal fokus op sporthulpbronne, bewusmaking van bendegeweld, voedselsekerheid en skoolbesoeke en -opheffing. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die Kolbe’s se passie om terug te gee is ʼn voorbeeld van wat dit beteken om ʼn verskil te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….