Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Pakistanse sakeman is gered en drie verdagtes aangekeer in Gauteng
# ‘n Parlementêre komitee kritiseer ondoeltreffende maatreëls teen die bou-mafia
# En, rugby: Siya Kolisi keer terug na die Haaie
# ’n Suid-Afrikaner en twee Mosambiekse burgers is by verskillende adresse in Gauteng in hegtenis geneem na die ontvoering van ’n Pakistanse sakeman en die moord op nog een. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die polisie werk sedert 27 Augustus aan ’n ontvoeringsaak na ’n sakeroof in Ennerdale toe twee sakevennote in hulle ysterware-winkel aangeval is. Sy sê een is vermoor en die ander vir ’n losprys aangehou:
Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, kritiseer intussen die regering se benadering tot die stryd teen die afpersingsmafia, en noem dit ondoeltreffend. Sy opmerkings volg op die onlangse instelling van ‘n spesiale blitslyn vir die aanmelding van afpersing in die Oos-Kaap. Cameron sê die gebrek aan gevolgebestuur vuur die toename van afpersing in verskeie sektore aan. Hy moedig die regering aan om ‘n meer pro-aktiewe strategie in te stel om hierdie misdaadnetwerke af te breek:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê die mylpaal-salarisooreenkoms wat met georganiseerde arbeid bereik is, is ‘n geskiedkundige prestasie vir die plaaslike regeringsektor en die breër staatsdienssektor. Ingevolge die ooreenkoms sal die land se sowat 300-duisend munisipale amptenare salarisverhogings van ses-persent in die eerste jaar ontvang, en verbruikersprysinflasie-gekoppelde verhogings oor die volgende vier jaar. SALGA, die werkgewersliggaam wat die land se 257 munisipaliteite verteenwoordig, sê die ooreenkoms sal broodnodige bestendigheid vir die plaaslike regeringsektor verskaf.
# Die organisasie sonder winsbejag Blind Suid-Afrika het ‘n dringende aansoek in die Gelykheidshof gebring teen die Instituut van Gesertifiseerde Boekhouers. Die organisasie, wat deur Section27 verteenwoordig word, sê die instituut het onregverdig teen 50 blinde en siggestremde studente gediskrimineer wat probeer om hul Nasionale Sertifikaat in Kleinsake Finansiële Bestuur te voltooi. Hy staan ook ‘n bewering deur die instituut teen dat die 50 studente nooit vir die kursus ingeskryf het nie. Blind SA sê dit is onaanvaarbaar dat die liggaam weier om sy aanlyn platform aan te pas om blinde en siggestremdes in te sluit.
# Rugby: Die Haaie het bevestig Springbokkaptein Siya Kolisi sal terugkeer huis toe om by die Durbanse span aan te sluit na die afhandeling van sy huidige pligte op nasionale vlak. Die 33-jarige flank maak ‘n welkome terugkeer na Suid-Afrika nadat hy ‘n seisoen deurgebring het by die top Franse klub Racing 92. Die Haaie se direkteur van rugby, Neil Powell, sê Kolisi is ‘n invloedryke speler wie se leierskap en passie wêreldwyd bekend is en gevier word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-325-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….