Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dring aan op ‘n onafhanklike ondersoek na die minister van Justisie
# Die Landbank bereik ‘n skuldooreenkoms na vier jaar se wanbetaling
# En, Paralimpiese Spele: Span Suid-Afrika bring ses medaljes huis toe wat twee goues insluit
# ActionSA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, onmiddellik te skors na haar verskyning voor die parlementêre portefeuljekomitee op Justisie. Sy het aan die komitee gesê sy het nie enige onbehoorlike voordele ontvang toe sy burgemeester van Polokwane was nie, ondanks haar erkenning dat sy ‘n lening van die VBS Mutual-bank ontvang het om ‘n koffiewinkel in Sandton te begin. Athol Trollip van ActionSA sê ‘n onafhanklike ondersoek moet nou ingestel word:
# Suid-Afrika se Landbank, wat sedert April 2020 agterstallig is met sy skuld van 40-miljard-rand, het uiteindelik ‘n ooreenkoms bereik met sy internasionale en plaaslike uitleners om sy skuld te herstruktureer. Volgens die ooreenkoms sal alle uitleners bestaande plaaslike mediumtermyn-notas omruil vir nuwe aanspreeklikheidsnotas wat in 2028 verval. Dit sal ‘n billikheidsinspuiting van vyf-miljard-rand van die Nasionale Tesourie beskikbaar stel. Die Landbank sê dis ʼn belangrike stap in sy omkeerpogings.
# Gauteng is nou Suid-Afrika se besoedelingsbrandpunt, en die land se luggehalte het sedert 2017 verswak. Dit is volgens ʼn verslag van die nasionale luggehaltebeampte, Patience Gwaze. Die verslag toon Gauteng het verlede jaar net 100 dae skoon lug gehad, gevolg deur Mpumalanga met 150 tot 200 dae. Gwaze sê besoedelde lug wat uit Mpumalanga beweeg, is een van die faktore wat bydra tot Gauteng se lugbesoedeling. Sy sê die verslag kan onakkuraat wees weens ʼn gebrek aan moniteringstoerusting in sommige provinsies.
# Paralimpiese Spele: Span Suid-Afrika het ses medaljes verower in Parys, wat twee goues en vier brons insluit. Twintig atlete het aan sewe sportsoorte deelgeneem teenoor die 34 wat drie jaar gelede sewe medaljes in Tokio gewen het. Mpumelelo Mhlongo het een van die goue medaljes in die mans T44 100-meter gewen en die 19-jarige Simoné Kruger die ander een in die vroue-skyfwerp F38. Donald Ramphadi en Lucas Sithole met hul brons medaljes het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaners te word wat op die Spele ʼn medalje wen in rolstoeltennis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-152-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die welbekende skrywer en digter, James Matthews, wat verlede week oorlede is, was ʼn belangrike deel van die provinsie en die land se artistieke weefsel. Hy is in 1929 in Distrik Ses gebore. Die provinsiale LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê Matthews se liefde vir skryf was van vroeg af duidelik en sommige van sy eerste werk is gepubliseer toe hy maar 17 was:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….