Nuus 11:00
BULLETIN 9 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê sy besoek aan China het handels- en beleggingsbande versterk
# Die DA vra drastiese stappe om Gauteng se staatshospitale reg te ruk
# En, Span SA verower ses medaljes by die Paralimpiese Spele in Parys
# President Cyril Ramaphosa sê die versterking van bande met belangrike handelsvennote soos China lewer steeds voordele op vir Suid-Afrika se mense en ekonomie. Hy het verlede week die China-Afrika-samewerkingsforum se beraad bygewoon en met president Xi Jinping beraadslaag. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief hy verwelkom Xi se belofte dat China sy markte vir meer Suid-Afrikaanse produkte sal oopstel, en die weg sal baan vir meer Chinese belegging in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hy sê die besoek het handel- en beleggingsbande versterk.
# Die Tirisano-vakbond vir Vervoer en Dienste versoek die regering om voldoende befondsing aan verkeersdepartemente toe te staan sodat beamptes opleiding en die nodige toerusting kan ontvang om hulle verantwoordelikhede uit te voer. Die vakbond se woordvoerder, Gcobisa Kelembe, versoek ’n omvattende etiekkode as ʼn standaard vir verkeers-owerhede. Kelembe sê die vakbond is besorg oor elf beamptes wat aangekeer is omdat hulle na bewering omkoopgeld geëis het op die N1 tussen Polokwane en Musina in Limpopo:
# Die DA in Gauteng sê ingrypende veranderings is nodig in die bestuur van die provinsie se staatshospitale. Die Gesondheidsdepartement ondersoek bewerings oor toestande by die Helen Joseph-hospitaal nadat ʼn pasiënt, Tom London, ʼn reeks video’s geplaas het oor die swak behandeling wat pasiënte van personeel ontvang en die haglike toestand van toilette en ander geriewe. Jack Bloom van die DA sê premier Panyaza Lesufi moet die departementshoof, Arnold Lesiba Malotana, se aanstelling heroorweeg as hy ernstig is om die hospitale reg te ruk:
# Paralimpiese Spele: Span Suid-Afrika het ses medaljes verower in Parys, wat twee goues en vier brons insluit. Twintig atlete het aan sewe sportsoorte deelgeneem teenoor die 34 wat drie jaar gelede sewe medaljes in Tokio gewen het. Mpumelelo Mhlongo het een van die goue medaljes in die mans T44 100-meter gewen en die 19-jarige Simoné Kruger die ander een in die vroue-skyfwerp F38. Donald Ramphadi en Lucas Sithole met hul brons medaljes het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaners te word wat op die Spele ʼn medalje wen in rolstoeltennis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-782-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-489-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-95-sent per vat.
# En ter afsluiting: Vandag is Internasione Bewusmakingsdag vir Fetale-alkoholspektrum-afwyking wat herdenk word onder die tema: Elkeen speel ‘n rol. Hoewel die voorkoms van Fetale-alkoholspektrum-afwyking wêreldwyd 1,5-persent is, wissel die voorkoms in Suid-Afrika tussen 2,7- en 28-persent in sekere gemeenskappe. Bathembu Futshane van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het Suid-Afrika die sewende hoogste vlak van alkoholverbruik per kapita ter wêreld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….