Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is teleurgesteld oor die rugby-verduistering vir die meeste Suid-Afrikaners
# Die Suid-Afrikaanse vlag verlig die Kaapstad-stadion vir die Springbokke se kragmeting
# En, die voormalige Amerikaanse visepresident Dick Cheney gaan stem vir Kamala Harris
# Cosatu is teleurgesteld die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland word nie vandag vir alle Suid-Afrikaners gewys nie. Woordvoerder Malvern de Bruyn sê dis ‘n hartseer dag vir gesinne in die werkersklas. Hy sê die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het met verlede Saterdag se wedstryd met ʼn foefie vorendag gekom en dit is ʼn regte bakhand-benadering vir diegene wat daaruit voordeel trek en Suid-Afrikaanse sport beheer:
# Die Suid-Afrikaanse vlag is intussen op die Kaapstad-stadion geprojekteer, in aanloop tot die kragmeting vanmiddag. Die vlag van ses-meter by ses-meter is agt-meter hoog en is tot middernag gisteraand geprojekteer naby die hoofingang regoor Seinheuwel. Die geprojekteerde vlag sal ook na vandag se wedstryd sigbaar wees vanaf 7-uur vanaand tot middernag. Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die stad is verenig in trots en opgewondenheid voor die geskiedkundige stryd tussen die Springbokke en hulle grootste teenstanders.
# Eskom sê die faktor vir onbeplande verlies aan vermoë neig steeds laer teen 25,4-persent vir die finansiële jaar tot op datum, ʼn verbetering van die 34,6-persent in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena, sê hierdie verlaging in die faktor vir onbeplande verlies aan vermoë verteenwoordig ʼn verbetering van nege-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die EFF vra vir die vestiging van ʼn ad hoc-komitee om die volle omvang van afpersing in Suid-Afrika te ondersoek. Mbuyiseni Ndlozi van die party sê hierdie komitee moet openbare verhore hou, die standpunte van eienaars van kleinsake, die burgerlike samelewing en kenners insamel, en ’n omvattende beleid en wetgewende ingrypings voorstel om hierdie misdaad uit te wis. Hy sê misdadigers het Suid-Afrika beleër en kwesbare klein ondernemings val hulle nou ten prooi:
# Ten slotte: Die voormalige Amerikaanse visepresident en lewenslange Republikein, Dick Cheney, gaan in die presidentsverkiesing in November vir Kamala Harris van die Demokratiese Party stem. Cheney was invloedryk tydens die presidentskap van George W Bush. Hy sê daar was nog nooit ʼn individu wat ʼn groter bedreiging vir Amerika inhou as die huidige Republikeinse kandidaat, Donald Trump nie. Volgens Cheney het Trump die vorige verkiesing met geweld en leuens probeer steel om homself aan bewind te hou nadat kiesers hom verwerp het, en hy kan nooit weer aan bewind vertrou word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….