Nuus 08:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor elf-duisend onderwysposte wat bedreig word in KwaZulu-Natal te midde van ‘n begrotingskrisis
# Rise Mzansi vra ‘n hersiening van BTW-vrygestelde goedere om die finansiële druk te verlig
# En, Simone Kruger wen goud in diskusgooi by die Paralimpiese Spele
# Die DA sê ernstige onderbetalings in provinsiale begrotings, veral in KwaZulu-Natal, bedreig tot elf-duisend onderwysposte. Die nasionale woordvoerder van die DA Willie Aucamp moedig die Tesourie aan om in te gryp, en maak voorspraak vir die vermindering van verkwistende besteding en die vaspen van die salarisse van nie-noodsaaklike staatsamptenare. Hy waarsku soortgelyke gevolge kan gesondheidsorg en polisiëring tref, en vra vinnige regeringsoptrede om wydverspreide werksverliese te voorkom:
# Rise Mzansi vra ‘n hersiening van BTW-vrygestelde goedere en dienste om te help om die lewenskostekrisis die hoof te bied. In sy mini-vollesitting-toespraak in die Nasionale Vergadering het Makashule Gana van party gesê hoë misdaadkoerse, korrupsie en onvoldoende openbare dienste is die sleutel-aandrywers van lewenskoste. Gana stel oplossings voor soos die verskaffing van bekostigbare energie en water, die verbetering van openbare vervoer, en die versterking van die strafregstelsel om korrupsie teen te werk:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sal die openbare veiligheid- en sekerheid-tegnologie-uitstalling in China bywoon as deel van die globale openbare sekerheidsamewerkingsforum. Die ekspo van Sondag tot Woensdag stel toonaangewende vordering in openbare veiligheidstegnologie bekend. Mchunu sal ook die minister van Openbare Veiligheid van China, Wang Xiaohong, ontmoet om samewerking te bespreek oor transnasionale misdaad en gevorderde polisiëringstegnologie. Hy sal insig kry oor gevorderde tegnologie om die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermoë te versterk om kubermisdaad te pak en stedelike veiligheid te verbeter.
# Brittanje stuur nog 650 bykomende kortafstandmissiele na Oekraïne in sy stryd teen Russiese magte wat die land binne val. Die president van Oekraïne, Volodomyr Zelensky, het by ‘n verdedigingsberaad by die Ramstein-lugmagbasis in Duitsland weereens ʼn beroep om hulp aan sy bondgenote gerig. Volgens Zelensky is hy dankbaar maar het gepleit vir goedkeuring om Westerse langafstandmissiele vir teikens in Rusland te gebruik. Die beraad by Ramstein volg slegs dae nadat minstens 51 mense dood is in ʼn Russiese missielaanval op Poltava in die sentrale deel van Oekraïne.
# En, die Paralimpiese Spele: Simone Kruger van Suid-Afrika het goud behaal in die eindronde van die diskusgooi vir vroue F38. Kruger het met haar derde gooi ’n Paralimpiese rekord met ’n afstand van 38,70 meter opgestel. Yingli Li van China was tweede met ‘n beste afstand van 38,64 meter en Xiomara Saldarriaga Hernandez van Colombia brons met 38,36 meter. Kruger het in Mei by die Para-Wêreld Atletiekkampioenskappe in Kobe, Japan goud verower en is ook nou die Paralimpiese kampioen. Dis Suid-Afrika se vyfde medalje en tweede goud van die Spele.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….