Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Duitsland bied befondsing van 390-miljard rand aan vir Suid-Afrika se kragnetwerk-opknapping
# China ontruim 400-duisend mense voor die aankoms van die super-tifoon Yagi
# En, tennis: Geskiedenis word dalk gemaak in die mans-halfeindronde op die Amerikaanse Ope
# Duitsland is gewillig om te help om Suid-Afrika se kragnetwerk-opknapping van 390-miljard-rand te befonds, wat meer son- en windkrag wil inkorporeer. Die steun vorm deel van die Billike Energie-oordragvennootskap vir Suid-Afrika se verskuiwing van steenkool na hernubare energie. Die Duitse gesant, Rainer Baake, lig die behoefte uit aan belegging in die netwerk en spreek gewilligheid uit om nog fondse te verskaf. Die vennootskap is gekritiseer weens die stadige instelling daarvan, met kommer of Suid-Afrika sy uitlatingsteikens teen 2030 sal bereik.
# AfriForum sê die regering se Nuwe Ontwikkelingsbank-lening van 17-miljard-rand om waterinfrastruktuur te verbeter, sal nie Suid-Afrika se waterkrisis oplos nie. Die burgerregte-organisasie waarsku wanbestuur en korrupsie op munisipale vlak kan die fondse vermors sonder dat betekenisvolle verbeterings plaasvind. Marais de Vaal van AfriForum sê om die krisis aan te pak moet plaaslike bestuur verbeter, personeel opgelei, watergehalte gemonitor, en samewerking tussen die regering en die private sektor versterk word:
# Die DA waarsku voortgesette operasionele mislukkings by Lugverkeer- en Navigasiedienste kan die toerismesektor en ekonomie in gevaar stel. Die party vra die minister van Toerisme, Patricia de Lille, en die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om dringend op te tree. Die DA verwys na verouderde infrastruktuur en personeeltekorte wat vertragings veroorsaak en tot die sluiting van lughawens kan lei. Haseena Ismail van die party sê onmiddellike hervormings is nodig om lugveiligheid en ekonomiese herstel te ondersteun:
# China het sowat 400-duisend mense ontruim voor een van die jaar se kragtigste storms die land na verwagting gaan tref by die gewilde toeriste-eiland Hainan. Treine, bote en vlugte is vir ‘n tweede dag opgeskort en skole bly gesluit. Super-tifoon Yagi gaan tans gepaard met windsnelhede van tot 240-kilometer per uur. Weerkundiges sê dit kan katastrofiese skade aanrig aan Hainan en die naburige Guangdong. Die owerhede glo Yagi gaan die sterkste tifoon wees om sy suidkus in ‘n dekade te tref.
# Tennis: Die mans-halfeindronde het aangebreek op die Amerikaanse Ope en die eerste keer in 18-jaar sal daar ‘n Amerikaner in die eindstryd in New York wees. Die Amerikaners Taylor Fritz en Frances Tiafoe ding mee om die land se eerste mans-enkelspelkampioen in die toernooi te wees sedert Andy Roddick dit in 2003 kon regkry. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, pak Jack Draper, wat slegs die vierde Brit is om dié toernooi se enkelspel-halfeindronde in die Ope-era te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-837-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….