Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke doen ‘n klopjag by die Polokwane-munisipaliteit om beslag te lê op bewyse van Thembi Simelane se VBS-lening
# OUTA vra die kansellasie van die rybewyskaartlisensie-kontrak weens beweer tenderongerymdhede
# En, rugby: Geskiedenis is aan die All Blacks se kant in Kaapstad
# Die Valke het ‘n klopjag uitgevoer op die Polokwane-munisipaliteit in Limpopo en beslag gelê op bewysstukke wat verband hou met die minister van Justisie, Thembi Simelane, se lening van 575-duisend-600-rand vir ʼn koffiewinkel in Sandton van ʼn tussenganger met bande met VBS. Die soektog was toegespits op haar gewese persoonlike assistent en dokumente en kommunikasie oor die 349-miljoen-rand wat die munisipaliteit in VBS belê het. Simelane het die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie verseker sy het die korrekte maatreëls gevolg:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die kansellasie van die kontrak vir die masjien vir rybewyskaarte wat aan die Franse maatskappy IDEMIA en Security SA toegeken is. Die organisasie is bekommerd oor onreëlmatighede in die bodproses en beduidende begrotings-oorskrydings nadat die koste die hoogte ingeskiet het van 468-miljoen- tot byna 900-miljoen-rand. Wayna Duvenage van OUTA verwelkom die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se besluit om die tender te ondersoek, en vra ‘n deeglike hersiening om deursigtigheid en regverdigheid te verseker:
# ‘n Drie-en-twintigjarige vrou wat aangekla word van die verdrinking van ‘n jong kind in die Oos-Kaap, sal Maandag na die Landdroshof in Mqanduli terugkeer vir ‘n formele borgtogaansoek. Polisiewoordvoerder Siphokazi Mawiza sê Noluvuyo Sinyikatha het na bewering Woensdag die sesjarige meisie na ‘n plaaslike dam gelok. Sy sê Sinyikatha is in hegtenis geneem en aangekla van moord:
# Minstens 17 kinders is dood toe ‘n seunskoshuis aan die brand geslaan het by ‘n skool in sentraal-Kenia. Die polisie en die Ministerie van Onderwys sê daar word gevrees die sterftesyfer kan verder styg, want talle kinders is hospitaal toe geneem met erge brandwonde. Die oorsaak van die brand by die Laerskool Hillside Endarasha in die Nyeri-streek is nog nie duidelik nie. Daar was 156 kinders in die slaapsaal. President William Ruto beskryf die brand as verskriklik en het ‘n ondersoek gelas.
# Rugby: Die All Blacks het ‘n beter rekord as die Springbokke in Kaapstad en het sewe van die tien toetse in die Moederstad gewen. Die eerste wedstryd tussen die spanne in Kaapstad was in 1928, wat die All Blacks 13-5 gewen het. Die laaste wedstryd was in 2017 op Nuweland, waar die All Blacks 25-24 gewen het. Môre se wenner palm ook die Vryheidsbeker in wat in 2004 bekendgestel is. Die All Blacks is sedert 2010 die houer daarvan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-63-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-519-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….