Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die tydskrif Time het sy 2024-lys van invloedrykste mense in kunsmatige intelligensie bekendgemaak. Dit sluit Google en Alphabet se uitvoerende hoof, Sundar Pichai, in, asook Microsoft se hoof, Satya Nadella, OpenAI se hoof, Sam Altman, Meta se hoof, Mark Zuckerberg, en ByteDance se hoof en medestigter, Liang Rubo. Time se hoofredakteur, Sam Jacobs, het aan CNBC gesê vanjaar se lys toon voorbeelde van die moontlikhede vir K-I as dit uit die laboratorium na die wêreld beweeg:
# Die benoemings vir die 18de jaarlikse Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings is bekend. Altesaam 347 inskrywings is ontvang. Vyf nuwe kategorieë is bekendgestel, insluitend oorspronklike liedjie-telenovela, en beste prestasie in visuele effekte. Die animasie-kategorie is terug nadat daar sedert 2013 nie genoeg inskrywings was nie. Thembinkosi Mthembu blink uit met vier benoemings, insluitend vir beste akteur in ‘n drama vir beide Shaka iLembe en Adulting. Tshedza Pictures het met 29 die meeste benoemings vir ‘n produksiehuis. Die prysuitdeling vind op 26 Oktober plaas.
# ‘n Bestuursopleidingsonderneming, MasterDrive, maak gereed vir sy derde jaarlikse Vlootveiligheidstoekennings in November. Die geleentheid erken en beloon uitnemendheid in padveiligheid regdeur die vervoerbedryf, met meer as 200-duisend rand prysgeld wat gewen moet word. DP World se terreinbestuurder, Edward Hoffmann, was verlede jaar die Vlootbestuurder van die jaar en sê die toekenning het sy verbintenis tot padveiligheid beduidend versterk:
# ‘n Student aan die Universiteit van Pretoria met Miller-sindroom, Hanli Kriel, het ‘n doktorsgraad in Drama en Rolprentkuns behaal. Die seldsame genetiese afwyking word gekenmerk deur abnormaliteite aan die gesig en ledemate. Dit sluit meestal ook gehoorverlies in, wat soms spraak kan beïnvloed. Kriel sê sy laat niks of niemand in haar pad staan om haar drome te bereik nie. Sy sê die dowe Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, se onlangse kroning was baie inspirerend en ‘n sterk standpunt wat die noodsaaklikheid van insluiting beklemtoon.
# En ten slotte: Die African Brain-kunsfees vind die naweek in die Soweto-teater plaas waar die oorvleueling tussen kreatiwiteit en brein-gesondheid gevier en ondersoek word. Die geleentheid duur twee dae en wil positiewe verandering en holistiese benaderings inspireer deur breingesondheid en welstand in Afrikagemeenskappe en ander te bevorder. Daar word ‘n verskeidenheid aktiwiteite soos slypskole oor geestesgesondheid en welstand aangebied. Die fees begin môre met ʼn geestesgesondheids-uitstappie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….