Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Vervoer versoek die ouditeur-generaal om die oudit van die rybewyskaart-verkryging uit te brei
# Meer as 80-duisend mense woon pous Franciscus se mis by in Indonesië met sy Moslem-meerderheid
# En, rugby: Westelike Provinsie verander 14 posisies in sy opdrafspan vir sy Curriebekerkragmeting met Griekwas
# Die minister van Vervoer Barbara Creecy het die ouditeur-generaal gevra om die oudit van die nuwe rybewyskaart-verkrygingsproses te versnel en uit te brei. Die hersiening sal nou ook kyk of die verkrygingskettingreëls gevolg is, of databeskermingsmaatreëls voldoende is en die uitwerking van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika se onlangse kansellering van ‘n kontrak met die Franse maatskappy IDEMIA. Collen Msibi van die departement sê die versoek is gemik op die hantering van vertragings met rybewyskaart-aansoeke en kwessies met die huidige drukstelsel:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê dis teenproduktief om nog geld aan Transnet te leen terwyl dit steeds in ‘n fiskale gat is weens wanbestuur in die staatskapingstydperk. Die New Development Bank het ‘n leningsooreenkoms van vyf-miljard-rand aan Transnet goedgekeur om die spoorvragsektor te moderniseer en te verbeter. Hermann Pretorius van die instituut sê die lening plaas ook die regering in ʼn moeilike posisie:
# Meer as 80-duisend mense het die nasionale stadion in Jakarta, Indonesië, volgepak vir Pous Franciskus se mis in die land met sy Moslem-meerderheid. Die hoof van die Katolieke Kerk is op ʼn besoek aan vier lande in die Asië-Stille Oseaan-gebied wat ook Papoea Nieu-Guinee, Oos-Timor en Singapoer insluit. Die pous het die skare aangemoedig om eenheid en vrede na te streef. Hy het ook die Istiqlal-moskee in die hoofstad besoek waar hy ʼn verklaring onderteken het om klimaatsverandering aan te pak en tussengeloofsdialoog te bevorder.
# Rugby: Die slot JD Schickerling speel vandag sy 50ste wedstryd vir Westelike Provinsie in die Curriebekerkragmeting met Griekwas in Kimberley. Daar is 14 veranderings aan verlede week se opdrafspan teen die Pumas, met net die heelagter Luke Burger wat sy plek behou. Die vleuels Angelo Davids en Leolin Zas sluit hulle by Burger aan. Dan du Plessis is die kaptein en Paul de Wet en Jurie Matthee die skakelpaar. Die Springbokke Steven Kitshoff, André-Hugo Venter and Ben-Jason Dixon is onder die plaasvervangers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-796-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Student aan die Universiteit van Pretoria met Miller-sindroom, Hanli Kriel, het ‘n doktorsgraad in Drama en Rolprentkuns behaal. Die seldsame genetiese afwyking word gekenmerk deur abnormaliteite aan die gesig en ledemate. Dit sluit meestal ook gehoorverlies in, wat soms spraak kan beïnvloed. Kriel sê sy laat niks of niemand in haar pad staan om haar drome te bereik nie. Sy sê die dowe Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, se onlangse kroning was baie inspirerend en ‘n sterk standpunt wat die noodsaaklikheid van insluiting beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….