Nuus 09:00
BULLETIN 6 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu versoek die Justisie-minister om eerlik te wees oor oor VBS-bewerings
# Die Vryheidsfront Plus sê hy bly verbind tot die bestaande koalisieregering in die Stad Tshwane
# En Tennis: Sabalenka en Pegula sal sake uitspook in die Amerikaanse Ope-eindstryd vir vroue
# Cosatu sê die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, moet die regte ding doen en volledig rekenskap gee oor haar betrokkenheid by die destydse VBS Mutual-bank. Sy moet vandag voor die Parlement verskyn om vrae te beantwoord oor die halfmiljoen rand wat sy van ‘n makelaarsonderneming ontvang het wat onwettige beleggings in die VBS beding het. Dit was tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane. Zanele Sabela van Cosatu sê Simelane moet deursigtig wees vir die publiek:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê ondanks die relatief uitdagende globale ekonomiese omgewing waarin hy funksioneer, het hy ‘n nábelaste-wins van 472-miljoen-rand vir die 2023/2024-boekjaar aangeteken. Dit is teenoor ‘n verlies van 466-miljoen-rand in die vorige boekjaar. Die maatskappy se inkomste het van ses-miljard-rand in die vorige finansiële jaar met 16-persent tot sewe-miljard-rand toegeneem. Acsa se uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, het aan die SABC gesê een van die redes vir die finansiële vertoning is die toename in lugverkeer:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy bly verbind tot die bestaande koalisieregering in die Stad Tshwane, en sal alles moontlik doen om met koalisievennote saam te werk om die mandaat wat kiesers gegee het, te vervul. Die party sê baie van die uitdagings wat die koalisie beleef, kom reeds jare lank aan en dit sal geduld, spanwerk en bestendigheid verg om op te los. Hy doen ‘n beroep op sy koalisievennote, veral ActionSA, om saam te werk om die nodige bestendigheid te skep en toewyding aan die taak te toon.
# Telegram se stigter en uitvoerende hoof, Pavel Durov, sê sy inhegtenisneming verlede week in Frankryk was ʼn verrassing en ʼn misleiding. Hy word aangekla dat hy misdadige aktiwiteite op die boodskapplatform toegelaat het. Die Russies-gebore miljardêr wat ook ʼn Franse burger is, word beskuldig dat sy platform gebruik word vir materiaal oor die seksuele misbruik van kinders, deur georganiseerde misdaadbendes, vir dwelmhandel en bedrog. Durov wat uit is op borgtog, sê enige bewering dat Telegram ʼn anargistiese paradys is, is vals.
# Tennis: Die tweede beste vrouespeler in die wêreld, Aryna Sabalenka van Belarus, kom môre in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Jessica Pegula van Amerika te staan. Sabalenka – verlede jaar se naaswenner – het haar landgenoot Emma Navarro met 6-3, 7-6 geklop en die eerste vrou sedert Serena Williams geword wat twee jaar agtereenvolgens in die eindstryd speel. Pegula het die Tsjeg Karolina Muchova geklop met 1-6, 6-4, 6-2, om haar eerste Grand Slam-eindstryd te haal. Sabalenka sê die wedstryd was straf, maar sy is verheug om weer in die eindstryd te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-574-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….