Nuus 06:00
BULLETIN 6 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu vra vir geen verdraagsaamheid jeens korrupsie nie
# Die hoof van die Valke bevestig tientalle arrestasies in staatskapingsake
# En rugby: Kolisi sal môre met ‘n gebreekte neus teen die All Blacks uitdraf
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, loof die 15-jaar vonnis van die voormalige hoof van ingenieurswese by PRASA, Daniel Mthimkhulu, as ‘n mylpaal in die stryd teen korrupsie. Mthimkhulu, wat skuldig bevind is aan die wanvoorstelling van sy kwalifikasies, is beveel om 5,8-miljoen-rand aan PRASA terug te betaal. Die minister lê klem op die skade wat aangerig is aan die integriteit van die instelling, waarop miljoene mense staatmaak vir veilige, betroubare vervoer:
# Die nasionale hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het die inhegtenisneming aangekondig van meer as 30 verdagtes wat verbind word met staatskaping. Lebeya het die media toegespreek en drie skuldigbevindings uitgelig, onder wie die voormalige hoof van ingenieurswese by PRASA Daniel Mthimkhulu se vonnis van 15 jaar. Hy waarsku diegene wat betrokke is by staatskaping dat hulle vervolg sal word, en beklemtoon ernstige gevolge vir die skending van die publiek se vertroue in belangrike instellings:
# Die ANC in Tshwane het opnuut ‘n mosie van wantroue teen die burgemeester Cilliers Brink ingedien en sê die party het vertroue verloor in sy vermoë om die metro te lei. Die party het verlede maand sy mosie van wantroue in Brink tydelik teruggetrek ná ‘n Hooggeregshof-uitdaging deur die burgemeester. Hy het die wettigheid van die mosie betwis, met verwysing na prosedurele onreëlmatighede. Die ANC sê daar is uitdagings, insluitend die ses-miljard-rand wat aan Eskom verskuldig is en swak dienslewering. Die ANC wil die mosie by die volgende raadsvergadering op die 26ste September ter tafel lê.
# Die polisie in Amerika het verlede jaar die tiener ondervra wat beskuldig word van dié week se moord op vier mense by sy hoërskool in Georgia. BBC News haal die FBI aan wat sê die 14-jarige Colt Gray het in Mei verlede jaar ontken hy is agter die inskrywings op die internet met beelde van vuurwapens en ‘n waarskuwing teen ‘n skoolskietery. Hy sal as ‘n volwassene verhoor word oor die dood van twee onderwysers en twee leerders by die Apalachee High School in Winder. ‘n Onderwyser en agt kinders is gewond.
# Rugby: Die Springbokkaptein Siya Kolisi pak die All Blacks met ‘n gebreekte neus in môre se Rugby Kampioenskapstoets in Kaapstad. Daar was twyfel oor sy deelname aan die herontmoeting nadat hy beseer is in verlede week se wedstryd op Ellispark, maar hy is gister ingesluit in die opdrafspan. Die afrigter Rassie Erasmus sê die mediese advies vir Kolisi was dat hy óf môre moet speel, óf aan sy neus moet laat werk en die wedstryd misloop. Hy het besluit sy neusoperasie kan wag, eerder as om nou vir drie weke uit die spel te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-283-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die benoemings vir die 18de jaarlikse Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings is bekend. Altesaam 347 inskrywings is ontvang. Vyf nuwe kategorieë is bekendgestel, insluitend oorspronklike liedjie-telenovela, en beste prestasie in visuele effekte. Nadat daar sedert 2013 nie genoeg inskrywings vir die animasiekategorie was nie, is dit nou terug. Thembinkosi Mthembu blink uit met vier benoemings, insluitend vir beste akteur in ‘n drama vir beide Shaka iLembe en Adulting. Tshedza Pictures het met 29 die meeste benoemings vir ‘n produksiehuis. Die prysuitdeling vind op 26 Oktober plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….