Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Australiese swemmer Alexa Leary het die wêreldrekord twee keer verbeter en goud ingepalm in die 100-meter vryslag S9 op die Paralimpiese Spele, net drie jaar na ‘n grusame fiets-ongeluk haar lewe onherroeplik verander het. Die 23-jarige het in 2021 teen ‘n hoë spoed van haar fiets afgeval tydens ‘n driekamp-oefening en ernstige breinskade en verskeie langtermynbeserings opgedoen. Haar ouers moes meer as een keer hoor dat sy nie sou oorleef nie, maar ‘n heldersiende het voorspel sy sal eendag met ‘n Paralimpiese gouemedalje spog. Leary het ook saam met die 100-meter aflosspan goud gewen in Parys.
Die tweede langste man in die wêreld het uiteindelik ‘n geskikte bed in Parys gekry. Morteza Mehrzad staan 2,46-meter in sy sokkies en is ʼn lid van Iran se sittende vlugbalspan. Die organiseerders het twee verlengings vir sy bed voorsien maar dit was steeds te kort en hy moes op die vloer slaap. Hulle het nou nog verlengings verskaf. Mehrzad ly aan akromegalie wat oormatige groeihormone veroorsaak en na ʼn fietsongeluk is sy regterbeen korter as die linker.
# Kaapstad se Freedom To Wish-veldtog word die derde keer aangebied en vanjaar se tema is Toerisme en Vrede. Die veldtog nooi Kapenaars uit om ʼn geliefde, of hulleself, te benoem vir ʼn onvergeetlike ervaring met vergunning van Kaapstad Toerisme en die Stad Kaapstad. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Freedom To Wish speel ʼn belangrike rol om plaaslike toerisme te bevorder en klein ondernemings in die bedryf te ondersteun:
# Vanjaar se kuns-vir-liefdadigheid-veldtog, Night of a 1 000 Drawings Johannesburg, ondersteun liefdadigheidsorganisasies soos Lefika la Phodiso, Home of Hope for Girls, en SafeStudy. Die publiek, opkomende en erkende kunstenaars en ontwerpers word aangemoedig om A5-meesterstukke te skep en te skenk. Dit kan krabbels, sketse, skilderye of foto’s wees. Vanjaar se unieke kunswerke word Saterdag uitgestal en teen 200-rand stuk verkoop op die wêreld se grootste A5-kunsuitstalling.
# En ten slotte: Todd Phillips se musiekfliek-opvolg, Joker: Folie à Deux, met Lady Gaga en Joaquin Phoenix in die hoofrolle, het groot lof ontvang op die Venesiese rolprentfees en is selfs vir elf minute lank staande toegejuig. Dis die opvolg op Phillips se 2019-fliek, Joker, wat elf Oscar-benoemings ontvang het. Phoenix het die beeldjie vir beste akteur ontvang en Hildur Guðnadóttir vir die oorspronklike agtergrondmusiek. Dit was ook die fliek wat daardie jaar die sesde meeste geld gemaak het. Joker: Folie à Deux word op 4 Oktober in teaters vrygestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….