Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek die oppergesag van die reg wanneer die saak oor Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie aangehoor word
# ActionSA waarsku Ithala Bank kan in duie stort soos VBS
# En rugby: Rassie Erasmus maak sewe veranderings aan die Springbokke se wedstrydgroep
# Die DA en burgerlike organisasies vra die oppergesag van die reg moet seëvier wanneer die Hooggeregshof in die Wes-Kaap die saak aanhoor oor John Hlophe se aanstelling in die Regterlike Dienskommissie. Die DA se woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die aansoek wil Hlophe verhinder om op die kommissie te dien en voer aan dit is irrasioneel dat iemand wat as regter afgedank is weens growwe wangedrag, op ʼn regterlike toesigliggaam kan dien:
# ActionSA sê hy vrees Ithala Bank kan in duie stort soos VBS Mutual Bank as daar nie dringend ingegryp word nie. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die beleërde KwaZulu-Natalse ontwikkelingsbank se lisensie verlede maand opgeskort omdat dit nie aan die vereistes vir finansiële gesondheid voldoen nie. Alan Beesley van ActionSA sê die verbrokkeling van die verhouding tussen Ithala en die reguleringsowerhede het gelei tot beduidende konflik en wantroue:
# Sanlam gaan ‘n 25-persent aandeel verkry in African Rainbow Capital Financial Services Holdings, wat TymeBank en ander beleggings beheer. Die ooreenkoms ter waarde van 3,9-miljard-rand, sluit ‘n kontantbetaling van ongeveer 2,4-miljard-rand in, asook aandele-uitruiling. Die verkryging sal na verwagting waarde vir aandeelhouers verhoog en TymeBank se netwerk beskikbaar maak vir versekerings-verspreiding. Die ooreenkoms volg ondanks die daling van 4,1-persent in Sanlam se aandele. African Rainbow Capital Investments het egter ‘n styging getoon van 9,2-persent.
# Rugby: Rassie Erasmus het sewe veranderings aangebring aan die Springbokke se wedstrydgroep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Kaapstad. Canan Moodie begin op vleuel en Willie le Roux op heelagter. Die nuwe skakelpaar is die skrumskakel Grant Williams, wat die eerste keer dié seisoen in die opdrafspan is, en Handré Pollard. Eben Etzebeth is terug op nommer 4-slot en kaptein Siya Kolisi is fiks en in die beginspan. Die Wêreldbekerwenners Jaden Hendrikse en Lukhanyo Am begin op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-970-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-515-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die tweede langste man in die wêreld het uiteindelik ʼn geskikte bed gekry op die Paralimpiese Spele in Parys. Morteza Mehrzad staan 2,46-meter in sy sokkies en is ʼn lid van Iran se sittende vlugbalspan. Die organiseerders het twee verlengings vir sy bed voorsien, maar dit was steeds te kort en hy moes op die vloer slaap. Hulle het nou nog verlengings verskaf. Mehrzad ly aan akromegalie wat oormatige groeihormone veroorsaak en na ʼn fietsongeluk is sy regterbeen korter as die linker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….