Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pogings word aangewend om die tariefgeskil tussen Suid-Afrika en China by te lê
# ‘n Misdaadsindikaat steel meer as 100-miljoen-rand se Posbank-toelaes
# En, rugby: Sewe veranderings word aan die Springbokke se wedstrydgroep aangebring
# Pogings word aangewend om die handelstariefgeskil tussen Suid-Afrika en China by te lê. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse landbousektor kommer uitgespreek het tydens die SA-China-sakeforum in Beijing. China is wêreldwyd Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, maar verlede jaar het die waarde van sy invoere uit China uitvoere ver oortref. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê pogings word voortgesit om ‘n oplossing te kry:
# ‘n Misdaadsindikaat het tussen Oktober 2021 en Oktober 2022 swak inligtingstegnologie-beheer by die Posbank uitgebuit om tydens vyf geleenthede altesaam 109-miljoen-rand te steel. Volgens ‘n forensiese verslag van KPMG het die bedrogspul die kloning van Maatskaplike Hulpverleningskaarte behels, die verandering van PINs en die onttrekking van kontant by kitsbanke. Verskeie werknemers van die Posbank was betrokke by die bedrogspul. Uitvoerende hoof Nikki Mbengashe sê die gapings wat KPMG identifiseer het, is teengewerk en toegangsbeheer versterk.
# Die adjunk-minister van Justisie, Andries Nel, sê minister Thembi Simelane sal nie teen aanspreeklikheid beskerm word oor bewerings oor die VBS Mutual-bank nie. Die minister moet môre voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verskyn om ‘n verduideliking te gee oor ‘n lening wat sy tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane ontvang het. Agterdog bestaan oor die lening by die maatskappy van ‘n man met bande met VBS. Nel sê die Nasionale Vervolgingsgesag sal teen enigeen optree, ondanks hul politieke verbintenis of posisie.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die nuwe ooreenkoms van verstandhouding met die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal skole se buitemuurse bedrywighede hervorm. Die ooreenkoms wil toegang verbeter tot sport en kulturele programme, veral in landelike en minderbevoorregte gebiede, wat gelyke geleenthede vir alle leerders sal verseker. McKenzie sê die ooreenkoms sal talentontwikkeling in sport en die kunste aanspoor, wat breër verteenwoordiging in nasionale spanne sal verseker:
# Rugby: Rassie Erasmus het sewe veranderings aangebring aan die Springbokke se wedstrydgroep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Kaapstad. Canan Moodie begin op vleuel en Willie le Roux op heelagter. Die nuwe skakelpaar is die skrumskakel Grant Williams, wat die eerste keer dié seisoen in die opdrafspan is, en Handré Pollard. Eben Etzebeth is terug op nommer 4-slot en kaptein Siya Kolisi is fiks en in die beginspan. Die Wêreldbekerwenners Jaden Hendrikse en Lukhanyo Am begin op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-193-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-509-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….