Nuus 11:00
BULLETIN 5 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane sal aanspreeklik gehou word
# Afpersers vertraag bouprojekte ter waarde van byna 400-miljoen-rand in die Wes-Kaap
# En die VSA sê Rusland meng in by sy presidentsverkiesing
# Die adjunk-minister van Justisie, Andries Nel, sê minister Thembi Simelane sal nie teen aanspreeklikheid beskerm word oor bewerings oor die VBS Mutual-bank nie. Die minister moet môre voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verskyn om ‘n verduideliking te gee oor ‘n lening wat sy tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane ontvang het. Agterdog bestaan oor die lening by ‘n man met bande met VBS. Nel sê die Nasionale Vervolgingsgesag sal teen enigeen optree, ondanks hul politieke verbintenis of posisie.
# Die vakbondfederasie Saftu sê die 0,4-persent groei in die ekonomie sal nie die rampspoedige werkloosheidsvlakke in die land laat stop of omkeer nie. Die tweede kwartaallikse arbeidsmag-opname het onthul die amptelike werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal vanjaar tot 8,3-miljoen opgeskuif. Saftu se woordvoerder, Mogoshadi Maserumule, sê dis duidelik die ekonomie kan nie volgens ʼn neo-liberale makro-ekonomiese raamwerk ontwikkel nie:
# Afpersers fokus op ses bouterreine van die Wes-Kaapse regering ter waarde van bykans 400-miljoen-rand, waarmee hulle ‘n oponthoud van tot drie jaar veroorsaak het. Die provinsie se Departement van Infrastruktuur het ‘n vraag van die DA beantwoord. Die betrokke projekte sluit in een by die Laerskool Valpark van drie-miljoen rand wat met drie jaar vertraag is. Die Stad Kaapstad het sterk standpunt ingeneem teen afpersers en die boubedryf-mafia wat hom genoodsaak het om meer as 40-miljoen-rand te bestee aan veiligheid vir bouterreine.
# Amerika se prokureur-generaal, Merrick Garland, sê die binnekring van Rusland se president, Vladimir Putin, het maatskappye opdrag gegee om vals inligting te bevorder as deel van ʼn program om die presidentsverkiesing te beïnvloed. Die Departement van Justisie het aanklagte ingedien teen twee Moskou-gebaseerde bestuurders van die staatsuitsaaier RT. Hulle het glo inhoudskeppers in Amerika betaal om pro-Russiese propaganda en misleidende inligting aan Amerikaanse gehore te voer. Garland sê beslag is gelê op 32 vals webblad-domeine wat Russiese sekerheidsdienste gekoop het:
# Krieket: Die beroemde Lord’s-stadion in Londen sal volgende jaar die eerste keer die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap aanbied. Die vorige eindstryd is verlede jaar op die Oval in die Britse hoofstad gespeel, toe Australië Indië geklop het. Nege toetslande ding mee om die twee topposisies, wat op 11 Junie in die eindstryd sal speel. Indië is tans boaan die punteleer, gevolg deur Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Suid-Afrika, Sri Lanka, Pakistan en die Wes-Indiese Eilande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-953-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-504-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….