Nuus 09:00
BULLETIN 5 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Forum oor China-Afrika-samewerking is belangrik
# Die TLU SA-konferensie fokus op landelike veiligheid en privaat eiendomsreg
# En die Stad Tshwane ondersoek ‘n skielike daling in reservoirvlakke
# President Cyril Ramaphosa sê hy glo die forum oor samewerking tussen China en Afrika kan ‘n belangrike rol speel terwyl Afrika ʼn geïntegreerde netwerk skakelings tussen lande bou. Hy het ʼn toespraak in Beijing gelewer by die vierde beraad van die forum oor samewerking tussen China en Afrika. Ramaphosa sê hy verwelkom president Xi Jinping se voorstel om China se bilaterale verhouding met Afrikalande te versterk, met diplomatieke bande op die vlak van strategiese verhoudings. Hy sê die forum is waardevol om die instelling van die Afrika-unie se Agenda 2063 te ondersteun.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, se jaarlikse konferensie het die veerkragtigheid en vernuwing van die landbousektor te midde van toenemende uitdagings beklemtoon. Dit sluit in ekonomiese onsekerheid, die bedreiging van privaat eiendomsregte en die verswakking van landelike veiligheid. TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê die konferensie het ook gefokus op maniere waarop boere maksimum winsgewendheid kan bereik terwyl volhoubaarheid steeds voorkeur kry:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die konsepkennisgewing oor vergoeding vir regters, landdroste en ander openbare ampsdraers goedgekeur. President Cyril Ramaphosa het besluit op ʼn drie-persent-verhoging vir die 2023/2024-boekjaar, ʼn 2,5-persent verhoging vir 2024/2025 en ʼn 4,7-persent-verhoging vir landdroste. Die komitee sê Suid-Afrika moet na ʼn enkele regbank beweeg, wat sal help met uitdagings wat die verskil in vergoeding tussen landdroste en regters se salarisse betref.
# Die Stad Tshwane sê hy ondersoek die oorsaak van die skielike daling in die watervlak van Laudium en Atteridgeville se reservoirs sedert die naweek. Talle inwoners is sonder water. Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê hulle moes die watertoevoer na sekere gebiede beperk sodat Laudium en Atteridgeville se stelsels kon herstel. Hy sê die tegniese span kon sover geen sigbare lekplek op enige van die stelsels vind nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is deur na sy eerste Amerikaanse Ope-halfeindronde nadat hy die Rus, Daniil Medvedev, met 6-2, 1-6, 6-1, 6-4 verslaan het. Die Italianer takel nou die Brit, Jack Draper, wat met die Australiër, Alex de Minaur, afgereken het om sy eerste Grand Slam-halfeindronde te haal. In die vroueafdeling het Jessica Pegula van Amerika die wêreld verstom toe sy die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, met 6-2, 6-4 afgeransel het om haar eerste major-halfeindronde te haal. Pegula, wat nou teen die Tsjeg, Karolina Muchova, sal kragte meet, sê sy het goed gespeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-235-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….