Nuus 08:00
BULLETIN 5 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki sê die regering van nasionale eenheid moet dringend ‘n nasionale dialoog byeenroep
# Regters, landdroste en openbare ampsdraers kry verhogings
# En ‘n 14-jarige word aangekla van moord nadat vier mense by ‘n skool in Georgia doodgeskiet word
# Oudpresident Thabo Mbeki sê daar moet dringend ‘n nasionale dialoog plaasvind om die regering van nasionale eenheid ʼn mandaat te gee. Hy het gister ʼn lesing gegee by Unisa se Afrika-leierskapinstituut in Pretoria. Hy sê ʼn nasionale dialoog sal verseker die regering is verenig en koalisievennote verwys nie kort-kort na hul eie manifeste nie. Mbeki het ook oor sy party gepraat en sê die ANC se hernuwing het nog nie plaasgevind nie, ten spyte van besluite wat by drie partykonferensies geneem is.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die konsepkennisgewing oor vergoeding vir regters, landdroste en ander openbare ampsdraers goedgekeur. President Cyril Ramaphosa het besluit op ʼn drie-persent-verhoging vir die 2023/2024-boekjaar, ʼn 2,5-persent verhoging vir 2024/2025 en ʼn 4,7-persent-verhoging vir landdroste. Die komitee sê Suid-Afrika moet na ʼn enkele regbank beweeg, wat sal help met uitdagings wat die verskil in vergoeding tussen landdroste en regters se salarisse betref.
# Drie vermeende afpersers, insluitend ʼn omstrede tradisionele leier van Mthatha-Wes, Nkosi Dalinzolo Mareke, is dood en ʼn polisiebeampte gewond in ʼn skietvoorval in Mthatha in die Oos-Kaap. Minstens drie skole in Mthatha-Wes is in Augustus deur afpersers genader wat beskermingsgeld geëis het. Die OR Tambo-distrikskommissaris, Phumzile Cetyana, sê Mareke was die baasbrein agter afpersings in die gebied:
# Twee studente en twee onderwysers is dood en nege beseer in ʼn massaskietvoorval by die Apalachee High School in Winder in die Amerikaanse staat, Georgia. ʼn Veertienjarige skoolseun is gearresteer en sal van die vier moorde aangekla word. Daar was vanjaar al minstens 45 skietvoorvalle by skole in Amerika. Die direkteur van Georgia se ondersoekburo, Chris Hosey, sê owerhede probeer vasstel hoe die AR-platform-styl-wapen wat die skieter gebruik het, in die skool gekom het:
# Sokker: Die kaptein en doelwagter van Bafana Bafana, Ronwen Williams, is een van tien doelwagters wat vir die gesogte Yashin-trofee by die Ballon d’Or-toekennings benoem is. Hy is die eerste Suid-Afrikaner in ‘n benoeming vir dié geëerde toekenning. Williams, ‘n Mamelodi Sundowns-speler, het in die 2023/24-seisoen die doelhok in 35 van sy 59 wedstryde suksesvol beman. Hy ding mee met die wêreld se voorste doelwagters, soos Diogo Costa van FC Porto en Emiliano Martinez van Aston Villa. Die wenners word op 28 Oktober in Parys aangekondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-241-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-496-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….