Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Thabo Mbeki het sy steun toegesê aan die regering van nasionale eenheid. Hy waarsku egter dat ‘n nasionale dialoog dringend belê moet word om die nuwe regering ‘n mandaat te gee.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die moordenaar van die 78-jarige André Scholtz van Christiana is lewenslank tronk toe gestuur. Regter André Petersen het in sy uitspraak gesê John Sithole hoort nie in die samelewing nie.
Dan skryf die koerant die digter Antjie Krog het gister ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang. Sy sê sy is klaar met die skryf van gedigte.
En laastens is daar ‘n brok oor die Australiese model en akteur, Elle McPherson se borskankerstryd.
# The Star en Pretoria News:
Skryf nog ‘n EFF-lid, Mpho Morolane het bedank en die moontlikheid bestaan dat hy by die MK-party gaan aansluit.
En berig die ANC-jeugliga het aan die SAKP gesê die party moet in die toekoms aan verkiesings deelneem.
# Sowetan:
Berig oor ‘n nuwe bedrogspul met identiteitsdokumente wat aan die lig gekom het. Onwettige myners het na bewering Wes-Kaapse vanne gebruik om die dokumente by Binnelandse Sake in Carletonville in die hande te kry.
# En The Citizen:
Skryf daar gaan nie van die belastingbetaler verwag word om die geldelike probleme van die VBS-bank op te los nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die uitwerking van die Vanrhynspas-busramp op die inwoners van Keimoes waar die meeste slagoffers vandaan kom. Tien mense is in die ongeluk dood en die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
En tweedens skryf die koerant die Hoërskool Upington betreur die voorval waarin een van sy leerders in ‘n TikTok-video ‘n man met die k-woord toesnou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die Vanrhynspas-busongeluk.
Tweedens word berig die geskiedkundige brons-slaweklok van Groot Constantia is gesteel.
En laastens skryf die koerant die Queen-kitaarspeler, Brian May het ‘n ligte beroerte gehad.
# En Cape Times:
Skryf die DA se hofsaak teen oudregter John Hlophe oor sy lidmaatskap van die Regterlike Dienskommissie kom vandag voor.
En berig die Springbokke hoop op die steun van Kaapstad se inwoners in Saterdag se kragmeting teen die All Blacks.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig gevangenes in die St Albans-gevangenishospitaal beweer personeeltekorte is so erg dat gevangenes die werk van gesondheidsbeamptes doen.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van die townships in Nelson Mandelabaai gaan nou self optree teen misdaad.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die beleërde Ithala-bank het die reëls van die Suid-Afrikaanse Reserwebank oortree.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die saak teen die motorbestuurder wat daarvan beskuldig is dat hy die oudrugbykaptein en bekende fietsryer, Gerhard Mans doodgery het, is van die rol geskrap.
Dan skryf die koerant die Republican Party sê as hy verkies word om die land te lei, beloof hy om geen vorm van diskriminasie toe te laat nie, maar om elke Namibiër suiwer volgens meriete te behandel.
En laastens is daar nuus oor twee van Namibië se voorste ontwerpers wat eerskomende naweek met hul skeppings by die gesogte Batho-modeweek in Gaborone, Botswana, gaan spog.