Nuus 06:00
BULLETIN 5 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering beweer Suid-Afrika se ekonomie toon tekens van herstel
# Transnet het ’n agterstand in onderhoud van 26-miljoen-rand
# En ‘n verslag bevind Brittanje se Grenfell Tower-brand kon voorkom word
# Die Regeringskommunikasie- en -inligtingstelsel sê Suid-Afrika se ekonomiese groei in die tweede kwartaal dui op ‘n stewige pad na herstel. Statistieke Suid-Afrika het ‘n styging van 0,4-persent aangekondig in die bruto binnelandse produk. Sleutelsektore, waaronder finansies, eiendom en elektrisiteit het aansienlike groei getoon, met huishoudelike besteding wat bydra tot die algehele verbetering. Die inligtingstelsel sê terwyl die regering uitdagings erken in landbou en mynwese, beklemtoon dit voortgesette pogings om groei te herstel.
# Die DA eis ‘n duidelike tydlyn vir die ontplooiing van misdaadbestrydingstegnologie, nadat misdaadstatistieke aantoon daar is al hoe meer geweld teen vroue en kinders. Die DA se nasionale adjunkwoordvoerder oor Polisie, Lisa Schickerling, kritiseer die SAPD oor die gebrek aan ʼn duidelike plan, ten spyte van versekerings. Sy benadruk die dringende behoefte aan vernuwende maniere om kwesbare gemeenskappe te beskerm en wetstoepassing te versterk:
# Die kantoor van die Ouditeur-Generaal sê Transnet spook met ‘n instandhoudingsagterstand van 26-mijoen-rand. Die OG se kantoor het aan die Parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge gesê Transnet het ʼn agterstand van ses-miljard-rand gerapporteer vir die jaar geëindig Maart 2024, wat vererger word deur swak batebestuur en sekerheidskwessies. Ten spyte van ʼn jaarverlies van 43-persent verwag Transnet moontlike winsgewendheid teen 2025. Lede van die Parlement het ernstige kommer uitgespreek oor die bedryfsagteruitgang van die maatskappy.
# Die munisipale vakbond Samwu gaan die Stad Tshwane Arbeidshof toe neem om geregtigheid te eis vir ‘n 5,4-persent salarisverhoging wat munisipale werkers geskuld word. Die hof het ‘n verhoor geskeduleer vir 28 November. Die vakbond bly verbind tot die versekering van die verskuldigde verhogings en om voldoening te verseker aan die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad. Die nasionale woordvoerder van Samwu, Papikie Mohale, sê ondanks ‘n ooreenkoms in 2021 vir geleidelike salarisverhogings het die stad herhaaldelik kwytskeldings gevra en geweier om sy verpligtinge na te kom.
# Die Grenfell Tower-brand wat in 2017 die lewens van 72 mense in Londen geëis het, was die gevolg van dekades se mislukte optrede deur die Britse regering, bedrieglike maatskappye en ‘n gebrek aan strategie deur die brandweerdiens. Dit is een van die bevindings vervat in die finale verslag van die Grenfell Tower-ondersoek. Dit was Brittanje se dodelikste geboubrand sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die voorsitter van die ondersoek, Martin Moore-Bick, sê opeenvolgende regerings het kommer oor die veiligheidspraktyk in die boubedryf geïgnoreer, vertraag of verontagsaam:
# Krieket: Die naatbouler van Leicestershire, Josh Hull, maak Vrydag sy buiging vir Engeland in die derde toets teen Sri Lanka. Die 20-jarige linksbouler vervang Matthew Potts in die laaste wedstryd van die reeks op die Oval, met Engeland 2-nul voor. Hull het maar eers verlede jaar sy buiging in eersteklas-krieket gemaak en is voor die tweede toets in die groep ingesluit nadat Mark Wood beseer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-946-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….